1 Korintiërs 11:1-16

1 Korintiërs 11:1-16 ABA

Julle moet doen soos ek doen. En ek doen soos Christus doen. Ek wil julle prys omdat julle altyd probeer onthou wat ek vir julle geleer het. Julle onthou en doen die dinge wat ek by die Here en by die ander apostels gehoor het en wat ek vir julle geleer het. Ek wil hê julle moet weet dat Christus die Hoof van elke man is. Die man is die hoof van sy vrou, en God is die Hoof van Christus. 'n Man wat bid of wat God se boodskap bring, moenie sy hare toemaak nie, want dan eer hy nie vir Christus, sy Hoof, nie. Maar 'n vrou wat bid of wat God se boodskap bring, moet 'n sluier oor haar kop dra. As sy nie 'n sluier dra nie, dan eer sy nie haar hoof, haar man, nie, want dan is sy dieselfde soos 'n vrou wat haar kop kaal geskeer het. As 'n vrou nie 'n sluier wil dra nie, dan moet sy ook haar hare afsny. Maar julle weet dat dit verkeerd is wanneer 'n vrou haar hare afsny of haar kop kaal skeer. Daarom moet sy 'n sluier dra wanneer sy bid of God se boodskap bring. 'n Man moenie iets op sy kop dra wanneer hy bid of God se boodskap bring nie, want hy is die hoof in God se plek en hy moet God eer. Maar die vrou moet haar man eer. Want God het die man nie uit die vrou gemaak nie, Hy het die vrou uit die man gemaak. En God het die vrou gemaak om die man te help, Hy het nie die man gemaak om die vrou te help nie. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra. So wys sy dat haar man haar hoof is. En dan is die engele ook tevrede. Maar onthou: Die man en die vrou behoort altwee aan die Here. Daarom het die man sy vrou nodig, en die vrou het haar man nodig. Ja, dit is reg, God het die vrou uit die man gemaak. Maar elke man word uit 'n vrou gebore. En so kom alles van God. Julle moet nou self besluit: Is dit reg dat 'n vrou tot God bid wanneer sy niks op haar kop dra nie? Nee. Ons sien by al die volke dat dit nie reg is dat 'n man lang hare dra nie. Maar as 'n vrou lang hare het en sy maak dit mooi, dan lyk sy pragtig. Want 'n vrou het lang hare gekry sodat sy haar kop kan toemaak. As daar iemand is wat oor hierdie dinge wil stry, dan sê ek vir hom: By ons én by die ander gemeentes van God stry ons nie oor hierdie dinge nie. Die vroue dra altyd sluiers wanneer hulle bid of wanneer hulle 'n boodskap van God bring.