1 Kronieke 4:5-43

1 Kronieke 4:5-43 AFR20

Asgur, die stigter van Tekoa, het twee vrouens gehad, Gela en Naära. Naära het vir hom Agussam, Gefer, Temni en Agastari in die wêreld gebring. Dit was Naära se seuns. Gela se seuns was Seret, Sogar en Etnan. Kos het Anub verwek, Hassobeba, en die familiegroepe van Agargel, die seun van Harum. Jabes is hoër geag as sy broers; sy moeder het hom die naam Jabes gegee en gesê: “Dit is omdat ek hom met smart in die wêreld gebring het.” Jabes het die God van Israel aangeroep: “As U my tog maar net sal seën, my grondgebied sal vergroot en as u hand by my sal wees! Weerhou onheil van my, sodat ek nie smart ervaar nie.” God het toe laat gebeur wat hy gevra het. Kelub, die broer van Suga, het Megir verwek. Hy was die vader van Eston. Eston het Bet-Rafa verwek, en Paseag en Teginna, die stigter van die dorp Nagas. Hulle is die mense van Rega. Kenas se seuns was Otniël en Seraja, en die seuns van Otniël was Gatat en Meonotai. Hy het Ofra verwek. Seraja het Joab verwek, die stigter van Vakmansdal, want hulle was vakmanne. Kaleb, die seun van Jefunne, se seuns was Iru, Ela en Naäm. Ela se nageslag was Kenas. Jehallelel se seuns was Sif, Sifa, Tireja en Asarel. Die nageslag van Esra was Jeter, Mered, Efer en Jalon. Mered se vrou het swanger geword met Mirjam, daarna met Sammai en met Jisbag, die stigter van Estemoa. Sy Judese vrou het Jered, die stigter van Gedor, Geber, die stigter van Sogo, en Jekutiël, die stigter van Sanoag, in die wêreld gebring. Die ander was die seuns van Bitja, die dogter van die farao, met wie Mered getroud was. Die seuns van Hodija se vrou, die suster van Nagam, was die vader van Keïla, uit Gerem, en Estemoa, uit Maäga. Simon se seuns was Amnon en Rinna, Ben-Ganan en Tilon. Jisi se nageslag was Soget en Ben-Soget. Die nageslag van Sela, Juda se kleinseun, was Er, die stigter van Leka; Lada, die stigter van Maresa, en die familiegroepe, die werkersgilde van fyn linne, van Bet-Asbea; dan ook Jokim en die mense van Koseba, Joas en Saraf wat in Moab vroue gehad het, maar na Betlehem teruggekeer het. Hierdie oorlewerings is oud. Hulle was die pottebakkers en die inwoners van Netaïm en Gedera. In diens van die koning het hulle daar gewoon. Simeon se nageslag was Nemuel, Jamin, Jarib, Serag, Saul. Sallum was sy seun; dié se seun was Mibsam; dié se seun Misma. Misma se nageslag was sy seun Gammuel; dié se seun Sakkur; en dié se seun Simi. Simi het sestien seuns en ses dogters gehad, maar sy broers het nie baie kinders gehad nie. Wat al hulle familiegroepe betref, hulle het nie so vermeerder soos die nageslag van Juda nie. Hulle het gewoon in Berseba, Molada, Gasar-Sual, ook in Bilha, Esem, Tolad, in Betuel, Gorma, Siklag, in Bet-Markabot, Gasar-Susim, Bet-Biri en Saärajim. Dit was hulle dorpe totdat Dawid koning geword het, ook die gehuggies daarvan. Etam, Ajin, Rimmon, Token en Asan, dié vyf dorpe en al die gehuggies wat rondom hierdie dorpe was, tot by Baäl, dit was hulle woonplekke. Hulle eie geslagsregister is: Mesobab, Jamleg, Josa, seun van Amasia; Joël, Jehu, seun van Josibja, seun van Seraja, seun van Asiël; Eljoënai, Jaäkoba, Jesogaja, Asaja, Adiël, Jesimiël, Benaja; Sisa, seun van Sifi, seun van Allon, seun van Jedaja, seun van Simri, seun van Semaja. Hierdie persone wat by name genoem word, was stamleiers in hulle familiegroepe. Hulle families het baie uitgebrei en hulle het getrek na die ingang van Gedor, tot aan die oostekant van die vallei om weiveld vir hulle kleinvee te soek. Hulle het geil en goeie weiveld gekry, en die gebied was wyd oop na albei kante, rustig en vreedsaam. Omdat dit van Gam se mense was wat voorheen daar gewoon het, het hierdie mense, wie se name opgeteken is, in die tyd van Hiskia, die koning van Juda, daar aangekom en die tente en die waterbronne wat daar te vinde was, verwoes. Die mense van Simeon het hulle met die banvloek getref; dit is vandag nog so. Hulle het in hulle plek gaan woon, want daar was weiding vir hulle kleinvee. Sommige van hulle, uit die nageslag van Simeon, het na Seïrberg toe getrek – vyfhonderd man met Pelatja, Nearja, Refaja en Ussiël, die seuns van Jisi, aan die hoof daarvan. Hulle het die res van die Amalekiete, dié wat ontkom het, verslaan en daar gaan woon; dit is vandag nog so.