1 Kronieke 29:1-9

1 Kronieke 29:1-9 AFR20

Koning Dawid het toe vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “My seun Salomo, die een wat God uitgekies het, is nog jonk en onervare. Die taak is omvangryk, want dit is nie vir 'n mens wat die vesting bedoel is nie, maar vir die HERE God. Na my beste vermoë het ek vir die huis van my God voorsien: goud vir die goue, silwer vir die silwer-, brons vir die brons-, yster vir die ystervoorwerpe en hout vir die houtwerk; ook •oniksstene en •edelstene as monterings, malagiet en veelkleurige stene, allerlei kosbare stene, en stene van albaster, in oorvloed. Buitendien, uit toegeneentheid teenoor die huis van my God het ek dit wat ek persoonlik besit aan goud en silwer, vir die huis van my God gegee, bo en behalwe alles wat ek vir die •heilige •tempel gereedgekry het: drieduisend kikkar goud, van die goud van Ofir, en seweduisend kikkar gesuiwerde silwer vir die bedekking van die vertrekke se mure – goud vir die goue voorwerpe en silwer vir die silwervoorwerpe, en vir al die werk deur die hand van vakmanne. Wie is bereid om hom vandag so aan die HERE toe te wy?” Toe het die leiers van die families, die leiers van die stamme van Israel, die •aanvoerders van duisend en van honderd en die toesighouers in diens van die koning, vrywillige gawes gegee. Hulle het vir die werk aan die huis van die HERE in goud vyfduisend kikkar en tienduisend dariek gegee, in silwer tienduisend kikkar, in brons agttienduisend kikkar, en in yster honderdduisend kikkar. Die wat edelstene in hulle besit gehad het, het dit gegee vir die skatkamer van die huis van die HERE, onder beheer van Jegiël, die Gersoniet. Die volk was verheug oor die gesaghebbers se bereidwilligheid, want hulle het dit van harte vrywillig vir die HERE gegee. Ook koning Dawid was besonder verheug.

Video for 1 Kronieke 29:1-9