1 KRONIEKE 29:1-9

1 KRONIEKE 29:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Koning Dawid het die hele vergadering soos volg toegespreek: “My seun Salomo, die één wat deur God gekies is, is jonk en sag, maar die werk is groot. Hierdie paleis is nie vir 'n mens bedoel nie, maar vir God die Here. Met alles in my vermoë het ek vir die huis van my God materiaal gereed gebring: goud vir die goudwerk, silwer vir die silwerwerk, brons vir die bronswerk, yster vir die ysterwerk, hout vir die houtwerk, oniks met die gesteentes om daarrondom in te lê, steentjies vir mosaïekwerk, allerlei edelstene en 'n groot hoeveelheid marmer. Omdat die huis van my God my na aan die hart lê, skenk ek ook nog my besit aan goud en silwer bo en behalwe alles wat ek reeds vir die heiligdom gereedgebring het: honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met 'n gawe aan die Here?” Die familiehoofde, die stamhoofde van Israel, die aanvoerders van duisend en van honderd, en die amptenare in beheer van die koning se dienste was almal gewillig. Hulle het vir die tempeldiens honderd een en sewentig ton goud, drie honderd twee en veertig ton silwer, ses honderd en sestien ton brons en drie duisend vier honderd sewe en twintig ton yster bygedra. Wie edelstene by hom gehad het, het dit aan die Gersoniet Jegiël gegee vir die tempelskat. Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly.

1 KRONIEKE 29:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Koning Dawid het toe vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “My seun Salomo, die een wat God uitgekies het, is nog jonk en onervare. Die taak is omvangryk, want dit is nie vir 'n mens wat die vesting bedoel is nie, maar vir die HERE God. Na my beste vermoë het ek vir die huis van my God voorsien: goud vir die goue, silwer vir die silwer-, brons vir die brons-, yster vir die ystervoorwerpe en hout vir die houtwerk; ook •oniksstene en •edelstene as monterings, malagiet en veelkleurige stene, allerlei kosbare stene, en stene van albaster, in oorvloed. Buitendien, uit toegeneentheid teenoor die huis van my God het ek dit wat ek persoonlik besit aan goud en silwer, vir die huis van my God gegee, bo en behalwe alles wat ek vir die •heilige •tempel gereedgekry het: drieduisend kikkar goud, van die goud van Ofir, en seweduisend kikkar gesuiwerde silwer vir die bedekking van die vertrekke se mure – goud vir die goue voorwerpe en silwer vir die silwervoorwerpe, en vir al die werk deur die hand van vakmanne. Wie is bereid om hom vandag so aan die HERE toe te wy?” Toe het die leiers van die families, die leiers van die stamme van Israel, die •aanvoerders van duisend en van honderd en die toesighouers in diens van die koning, vrywillige gawes gegee. Hulle het vir die werk aan die huis van die HERE in goud vyfduisend kikkar en tienduisend dariek gegee, in silwer tienduisend kikkar, in brons agttienduisend kikkar, en in yster honderdduisend kikkar. Die wat edelstene in hulle besit gehad het, het dit gegee vir die skatkamer van die huis van die HERE, onder beheer van Jegiël, die Gersoniet. Die volk was verheug oor die gesaghebbers se bereidwilligheid, want hulle het dit van harte vrywillig vir die HERE gegee. Ook koning Dawid was besonder verheug.

1 KRONIEKE 29:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Koning Dawid het toe na die hele vergadering gedraai en vir hulle gesê: “My seun Salomo, wat God as die volgende koning verkies het, is nog maar jonk en onervare. Die werk wat vir hom wag, is groot. Want die tempel wat hy bou, is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit is vir die HERE God self! Ek het elke hulpbron tot my beskikking gebruik en soveel as wat ek kon, bymekaargemaak om die tempel van my God te bou. Daarom is daar nou genoeg goud, silwer, koper, yster en hout, sowel as groot hoeveelhede oniksstene, ander kosbare stene, duur juwele en allerhande stene en marmerstene. “Omdat die tempel van my God my na aan die hart lê, gee ek al my persoonlike skatte van goud en silwer om met die konstruksie daarvan te help. Dit is buiten die boumateriaal wat ek reeds bymekaargemaak het vir sy heilige tempel. “Ek gee nou meer as 102 ton goud van Ofir en meer as 238 ton gesuiwerde silwer om die mure van die geboue oor te trek en vir die ander werk van goud en silwer wat die ambagsmanne moet maak. Wie gaan my voorbeeld volg? Wie is gewillig om vandag geskenke vir die HERE te bring?” Toe het die familieleiers, die stamleiers van Israel, die generaals en kapteins van die leër en die koning se administratiewe personeel gewillig bygedra. Vir die oprigting van die tempel van God het hulle gegee: byna 170 ton goud, 10 000 goue muntstukke, 340 ton silwer, 612 ton koper en 3 400 ton yster. Onder toesig van Jegiël, ’n afstammeling van Gerson, het hulle ook talle edelgesteentes bygedra vir die skatkamers van die huis van die HERE. Die volk het gejuig oor die vrywillige gawes, want hulle het vrywillig en heelhartig bygedra vir die Here. Koning Dawid was ook vol vreugde.

1 KRONIEKE 29:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Koning Dawid het vir die hele volksvergadering gesê: “God het een persoon gekies om die tempel te bou, Hy het my seun Salomo gekies. Salomo is jonk en swak. Dit is 'n groot werk, want die paleis wat hy moet bou, is nie vir 'n mens nie, dit is 'n tempel vir God die Here. Ek het gedoen wat ek kon doen om alles gereed te maak vir die tempel van my God: die goud, die silwer, die brons en die hout vir alles wat hulle daarvan moet maak, en ook nog oniks, edelstene om vas te sit teen die mure, klippies wat al die kleure het, en baie marmer. En ek gee ook al die goud en silwer wat ek het vir die tempel van my God, ek wil dit graag doen vir die tempel van my God. Ek gee dit saam met alles wat ek al klaar gereedgemaak het vir die gewyde gebou. Dit is 3 000 talente goud, goud uit die land Ofir, en 7 000 talente silwer. Julle moet dit gebruik om die mure van die geboue toe te maak, en vir die werk wat die ambagsmanne moet doen, hulle moet die goue goed en die silwergoed daarvan maak. En nou vra ek, wie van julle wil nou iets vir die Here gee?” Die familiehoofde wou graag iets gee, en ook die stamhoofde, die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, en die amptenare wat die werk vir die koning moes laat doen. Hulle het 5 000 talente goud gegee vir die werk by die tempel en ook 10 000 darieke goud, 10 000 talente silwer, 18 000 talente brons en 100 000 talente yster. Almal wat edelstene gehad het, het dit gegee vir die stoorkamers van die tempel. Jegiël van die Gerson-familie het dit daar opgepas. Die mense was bly omdat die leiers al die goed gegee het, want al die leiers wou dit graag vir die Here gee. Koning Dawid was ook baie bly.

1 KRONIEKE 29:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: My seun Salomo, die een wat God verkies het, is jonk en teer, en die werk is groot, want nie vir 'n mens is die paleis nie, maar vir die HERE God. En uit al my krag het ek gereed gelê vir die huis van my God: goud vir die goue en silwer vir die silwer- en koper vir die koper-, yster vir die yster- en hout vir die houtwerke; oniksstene en stene om in te lê, swart en veelkleurige stene, en allerhande kosbare stene en marmerstene in menigte. Bowendien, omdat ek behae het in die huis van my God, besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het: drieduisend talente goud, uit goud van Ofir, en seweduisend talente gelouterde silwer om daarmee die mure van die geboue oor te trek; goud vir die goue en silwer vir die silwervoorwerpe en vir al die werk van kunstenaarshand. Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir 'n offer aan die HERE? Toe het vrywillig gegee: die familie-owerstes en die stamowerstes van Israel en die owerstes oor duisend en oor honderd en ook die owerstes oor die diens van die koning. En hulle het gegee vir die diens van die huis van God: aan goud vyfduisend talente en tienduisend darieke; en aan silwer tienduisend talente; en aan koper agttienduisend talente; en aan yster honderdduisend talente. En by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die HERE onder toesig van Jéhiël, die Gersoniet. En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met 'n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly.

1 KRONIEKE 29:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: My seun Salomo, wat God alleen uitverkies het, is nog jonk en teer, en die werk is groot, want die paleis is nie vir mense nie, maar vir die HERE God. Nou het ek met al my krag vir die huis van my God berei die goud vir dinge wat van goud gemaak moet word, en die silwer vir dinge van silwer en die koper vir dinge van koper, die yster vir dinge van yster en hout vir dinge van hout; oniksstene en stene om te sit, glinsterende stene en allerhande kleure en allerhande edelstene en marmerstene in menigte. Verder, omdat ek my geneentheid aan die huis van my God gerig het, het ek uit my eie goed, van goud en silwer, wat ek aan die huis van my God gegee het, bo en behalwe alles wat ek vir die heilige berei het. Huis, selfs drie duisend talente goud, van die goud van Ofir, en sewe duisend talente gesuiwerde silwer, om die mure van die huise mee oor te trek; Die goud vir goue dinge en die silwer vir silwergoed en vir allerhande werk wat deur die hande van kunsmanne gemaak moet word. En wie is dan bereid om sy diens vandag aan die HERE te wy? Toe het die owerstes van die vaders en owerstes van die stamme van Israel en die owerstes oor duisend en oor honderd saam met die owerstes van die koning se werk gewillig geoffer, en hy het vir die diens van die huis van God gegee van goud vyf duisend talente en tien duisend drame en tien duisend talente silwer en agttien duisend talente van koper en honderd duisend talente yster. En die by wie edelgesteentes gevind is, het dit aan die skat van die huis van die HERE gegee deur die hand van Jehiël, die Gersoniet. Toe was die volk bly omdat hulle gewillig geoffer het, omdat hulle met volkome hart gewillig aan die HERE geoffer het; en koning Dawid was ook bly met groot blydskap.