1 Kronieke 21:18-27

1 Kronieke 21:18-27 AFR20

Die engel van die HERE het toe vir Gad gesê om vir Dawid te sê dat hy, Dawid, moet opgaan om vir die HERE 'n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet. Dawid het toe, op grond van die woord van Gad wat hy in die Naam van die HERE gespreek het, opgegaan. Toe Ornan omdraai, sien hy die engel. Sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip, maar Ornan het aangehou koring dors. Dawid het tot by Ornan gekom, en toe Ornan goed kyk, sien hy dit is Dawid. Hy het van die dorsvloer afgekom en voor Dawid diep neergebuig met sy gesig teen die grond. Daarop sê Dawid vir Ornan: “Gee asseblief vir my die plek met die dorsvloer; ek wil 'n altaar vir die HERE daarop bou. Teen die volle bedrag geld moet jy dit vir my gee, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” Ornan het Dawid geantwoord: “Neem dit vir u. My heer die koning kan daarmee doen wat goed is in u oë. Kyk, ek gee die beeste vir die •brandoffers, die dorssleë vir die hout en die koring vir die •graanoffer. Dit alles gee ek.” Maar koning Dawid het Ornan geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen die volle bedrag geld. Ek kan immers nie iets wat aan jou behoort, vir die HERE neem nie, of 'n brandoffer bring sonder uitgawes nie.” Dawid het Ornan seshonderd sikkel goud gegee vir die plek. Toe het Dawid daar 'n altaar vir die HERE gebou, en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Hy het die HERE aangeroep, en die HERE het hom geantwoord met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar. Die HERE het die engel opdrag gegee, en hy het sy swaard weer in sy skede teruggesit.