1 Kronieke 16:23-36

1 Kronieke 16:23-36 AFR20

Sing vir die HERE, o ganse aarde! Verkondig sy verlossing van dag tot dag! Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. Want groot is die HERE en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die HERE het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en blydskap is in sy heiligdom. Gee erkenning aan die HERE, familiegroepe van volke! Gee erkenning aan die HERE vir sy heerlikheid en krag! Gee erkenning aan die HERE vir die heerlikheid van sy Naam! Bring offers en kom in sy teenwoordigheid! Buig in aanbidding voor die HERE in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Laat die hemel bly wees, en die aarde juig. Mense onder die nasies sê: “Die HERE regeer!” Die see en alles daarin moet dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel, dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die HERE. Want Hy kom om die aarde te oordeel. Prys die HERE, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Julle moet sê: “Red ons, o God wat ons verlos, en bring ons bymekaar! Ja, red ons van die nasies, sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom.” Die HERE, die God van Israel, moet geprys word, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen!” en “Loof die HERE!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Kronieke 16:23-36