Sefanja 2:4-10

Sefanja 2:4-10 ABA

Daar sal nie meer mense wees in die stad Gasa nie, en die vyande sal alles afbreek in die stad Askelon. Al die mense in die stad Asdod sal op een dag sterf, en die vyande sal die stad Ekron afbreek en verwoes. Ja, Filistyne, dit sal sleg gaan met julle wat naby die see woon, julle wat van die eiland Kreta kom. Mense van Kanaän, Filistyne-land, die Here sê Hy sal julle straf. Daar sal nie meer mense in julle land lewe nie. Julle woon nou hier naby die see, maar skaapwagters sal hulle skape hier laat wei, hulle sal hier krale maak vir hulle skape en bokke. Die mense van Juda wat nog lewe, sal die skape en bokke wees. Hulle sal wei in die Filistyne se land, hulle sal in die aande gaan slaap in die huise van die stad Askelon. Hulle God die Here sal hulle Herder wees, Hy sal hulle seën, sodat dit goed sal gaan met hulle. Die Here sê: “Ek het gehoor hoe sleg praat die Moabiete en die Ammoniete oor my volk. Hulle het gemaak of my volk niks beteken nie en hulle dink hulle is self baie belangrik.” Die Here wat oor alles regeer, die God van die Israeliete, sê: “So seker soos Ek lewe, die Moabiete en die Ammoniete sal word soos Sodom en Gomorra. Daar waar hulle nou woon, sal net doringbossies groei, dit sal wees soos wanneer daar baie sout in die grond is. Daar sal nooit weer iemand woon nie. Die mense van my volk wat nog lewe, sal die Moabiete en die Ammoniete se goed vat en in hulle land gaan woon.” Dit sal gebeur omdat die Moabiete en die Ammoniete hoogmoedig was. Hulle het gedink hulle is baie belangrik en hulle het gedink die Here se volk beteken niks, die volk van die Here wat oor alles regeer.