Sefanja 2:10-15

Sefanja 2:10-15 ABA

Dit sal gebeur omdat die Moabiete en die Ammoniete hoogmoedig was. Hulle het gedink hulle is baie belangrik en hulle het gedink die Here se volk beteken niks, die volk van die Here wat oor alles regeer. Die Moabiete en die Ammoniete sal baie bang word vir die Here, want Hy sal al die gode van die aarde laat sterf. Hulle sal nie kos hê om te eet nie. Al die volke naby die see en op die eilande sal voor die Here buig, elkeen in sy eie land. Die Here sal ook teen die Kussiete oorlog maak, en hulle sal sterf. Dan sal Hy sy hand uitsteek na die noorde en Hy sal die Assiriërs laat sterf. Waar die stad Nineve nou is, sal daar 'n droë woestyn wees waar diere wei. Daar sal nie mense woon nie. Baie soorte diere sal daar lê en rus. Pelikane en uile sal op die stad se pilare slaap. Die wind sal deur die vensters waai. By die deure sal bakstene lê wat van bo afgeval het, want die vyande sal al die sederhout van die huise afhaal en wegvat. Nineve was 'n stad vol vrolike mense wat oor niks bekommerd was nie. Hulle het gedink hulle stad is die beste en die sterkste. Maar die vyande sal die stad verwoes. Dit sal 'n plek wees waar net diere lê. Almal wat daar verbygaan, sal die stad Nineve spot. Hulle sal na die hope klippe wys en lag.