Sy sê: “Hy het my geneem na 'n plek
waar ons kon feesvier,
hy het vir my gewys dat hy lief is vir my.
Jy moet vir my rosyntjies gee
om my sterk te maak,
jy moet vir my appels gee,
sodat ek nuwe krag kan kry,
want ek het swak geword van liefde.
Sy linker-arm is onder my kop,
sy regter-arm is om my lyf.
Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe,
en die gaselle en die takbokke in die veld
moet die getuies wees,
julle moet belowe dat julle ons nie sal wakker maak
en nie sal pla nie.
Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit
wat om te doen.”
Sy sê: “Ek hoor die man vir wie ek lief is,
kyk daar, hy kom, hy gaan teen die berge op,
hy spring oor die heuwels.
Die man vir wie ek lief is,
is soos 'n gasel, soos 'n jong takbok.
Kyk daar, hy staan anderkant ons muur,
hy kyk deur die vensters,
hy loer deur die tralies.
Die man vir wie ek lief is, begin praat,
hy sê vir my: ‘My liefste, my mooiste,
jy moet opstaan, jy moet kom.
Want kyk, die winter is verby,
dit reën nie meer nie.
Daar is weer blomme in die veld,
dit is nou die tyd om te sing,
ek hoor die duiwe koer in ons land.
Die vyeboom laat sy vye groot word,
jy kan ruik dat die wingerdstokke
blomme kry.
My liefste, my mooiste,
jy moet opstaan, jy moet kom.
Jy is soos 'n duif tussen die rotse,
'n duif wat wegkruip teen die hoë rotse,
ek wil jou sien, ek wil jou hoor,
jou stem is mooi en jy is mooi.’ ”
Sy sê: “Julle moet vir ons die jakkalse vang,
die klein jakkalsies wat aan die wingerdstokke vreet,
ons wingerdstokke wat nou begin blomme kry.
Die man vir wie ek lief is, is myne, en ek is syne,
hy is soos 'n takbok wat wei tussen die blomme