As mense aan Christus Jesus behoort, dan straf God hulle nie. Mense wil altyd graag sonde doen, en sonde laat mense altyd sterf. Maar die Heilige Gees het jou vrygemaak en Hy help jou om altyd te doen wat God wil hê. Ja, die Heilige Gees laat jou waarlik lewe, jy wat aan Christus Jesus behoort. God self het gedoen wat sy wette nie kon doen nie, Hy het ons gered. Die wette kon dit nie doen nie omdat mense swak is. God het sy eie Seun gestuur en God het Hom 'n mens laat word, 'n mens soos die mense wat sonde doen, en God het vir Hóm gestraf. So het God die sonde gestraf wat oor die mense regeer het. Nou kan ons regtig doen wat die wette sê, want ons doen nie die slegte dinge wat mense graag doen nie, ons doen wat die Heilige Gees sê ons moet doen. Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie. Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie.
Maar julle doen nie wat julle self wil doen nie, want die Heilige Gees is in julle harte en julle luister na die Heilige Gees, die Gees van God. Mense wat nie die Heilige Gees, die Gees van Christus, in hulle harte het nie, behoort nie aan Christus nie. Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe. Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte. Daarom, Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe en God sal eendag ook vir julle weer laat lewe, julle wie se liggame nog sal sterf, maar wat God se Gees in julle harte het.
Vriende, ons moet reg lewe. Ons moenie die dinge doen wat mense self graag doen nie, dit is slegte dinge. As julle lewe soos julle self graag wil lewe, dan sal God julle vir altyd laat sterf. Maar as julle na die Heilige Gees luister en julle doen nie wat julle liggame wil hê nie, dan sal God julle vir altyd laat lewe. Want as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan is hulle kinders van God. God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.” Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te weet dat ons God se kinders is. Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee. Maar dan moet ons saam met Christus swaarkry, sodat ons soos Christus kan wees, Christus wat Koning is.
Ons kry nou baie swaar, maar ek weet God sal eendag vir ons iets gee wat baie beter is. Hy sal vir ons iets gee wat baie wonderlik is, en ons sal dit sien. Want God het alles gemaak, en alles wag en hoop dat die dag sal kom wanneer God vir almal sal wys wie sy kinders is. God het alles gemaak, maar alles wat Hy gemaak het, is nou swak en sleg. Dit het nie self so geword nie, God het gesê dit moet so word. Maar alles wag om weer vry te word van alles wat dit swak en sleg laat word het. God sal alles verander wat Hy gemaak het, en dit sal so vry en belangrik wees soos die kinders van God. God het alles gemaak, en ons weet dat alles wat Hy gemaak het, nou swaarkry en sug soos 'n vrou wanneer sy 'n kind kry. Maar dit is nie net dit wat gebeur nie, ons self sug ook, ons wat die Heilige Gees het wat God vir ons gegee het sodat ons kan weet dat God vir ons alles sal gee wat Hy belowe het. Ja, ons wag en hoop dat God ons sal aanneem om sy kinders te wees, ons hoop dat Hy ons heeltemal vry sal maak. God het ons gered, daarom hoop ons dat iets met ons sal gebeur. Dit het nog nie gebeur nie. Wanneer iets met mense gebeur het, dan hoop hulle nie dat dit sal gebeur nie, want dit het klaar gebeur. Maar ons hoop dat daar iets met ons sal gebeur, iets wat nog nie gebeur het nie. Daarom hoop ons en hou ons aan om daarvoor te wag.
Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort.