God het ons vrygespreek omdat ons in Christus glo. Nou is daar vrede tussen ons en God, want ons Here Jesus Christus het vrede gemaak tussen ons en God. En Christus help vir ons wat glo, sodat ons elke dag kan weet dat God baie goed is vir ons. En ons is trots, want ons hoop en weet dat ons eendag by God, ons Koning, sal wees. Ons is ook trots wanneer ons swaarkry, want ons weet dat wanneer ons swaarkry, dan leer ons om geduldig te wees. En wanneer ons geduldig is, dan wys dit dat ons is soos God wil hê, en wanneer ons is soos God wil hê, dan hoop en weet ons dat God ons sal red. Ons weet ons sal kry wat ons hoop, want God het die Heilige Gees vir ons gegee, en die Heilige Gees maak ons harte vol met God se liefde.
Christus het gesterf toe ons nog swak was. Ja, Hy het op die regte tyd gesterf om die sondaars te red. Niemand sal lus wees om te sterf om 'n ander mens te red nie, ook nie as daardie ander mens reg lewe nie. Ja, miskien sal daar iemand wees wat dapper is en lus is om te sterf om 'n goeie mens te red. Maar Christus het gesterf om ons te red toe ons sondaars was. Daarom weet ons dat God baie lief is vir ons. Christus het gesterf, en daarom het God ons vrygespreek. En daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons ook sal red sodat God ons nie sal straf nie. Ons was voorheen God se vyande, maar God se Seun het gesterf sodat alles reg kan wees tussen ons en God. God het vir Christus weer laat lewe. Nou is alles reg tussen God en ons, daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons sal red. Ons weet dat Christus ons sal red en ons is ook baie trots, want ons Here Jesus Christus het gesterf sodat alles reg kan wees tussen God en ons en sodat ons aan God kan behoort.
Daarom, een mens, Adam, het eerste sonde gedoen, en hy moes sterf. Van toe af doen al die mense sonde, en hulle moet almal sterf. Die mense het sonde gedoen voordat God vir hulle sy wette gegee het, maar hulle was nie skuldig nie, want hulle het nog nie die wette gehad nie. Hulle was nie skuldig nie, maar hulle het gesterf, van die tyd toe Adam gelewe het tot die tyd toe Moses die wette van God vir die Israeliete gegee het. Die dood het oor al die mense regeer. Die mense wat nie dieselfde sondes gedoen het wat Adam gedoen het nie, het ook gesterf. Ja, Adam het sonde gedoen en gesterf, en dit het gewys wat Christus moes kom doen, Christus, die Een wat later gekom het.
God se genade is anders as die sonde en dit is sterker as die sonde. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom het baie mense gesterf. Maar God se genade is baie beter. Ja, God is baie goed, Hy het Een Mens, Jesus Christus, gegee, en dit is hoe God genadig was vir baie meer mense.