Romeine 5:1-15

Romeine 5:1-15 AFR20

Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus •Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 'n Mens sal nie maklik vir 'n •regverdige persoon sterf nie, al sou 'n mens dalk nog die moed hê om vir so 'n goeie persoon te sterf. God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is! As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is! Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie 'n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is 'n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom. Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus •Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid