Psalms 42:1-11

Psalms 42:1-11 ABA

Vir die leier van die koor: 'n Lied. Van die Korag-groep. Ek verlang na U, o God, soos 'n wildsbok verlang na strome water. Ek is dors vir God, vir die God wat lewe. Wanneer kan ek Hom weer in sy tempel gaan dien? My trane is my kos, ek huil elke dag en nag wanneer mense aanhou om vir my te vra: “Waar is jou God?” Dan onthou ek en ek hou aan om te dink hoe ek tussen baie mense geloop het en hulle gelei het na die tempel. Ons was baie mense en ons het feesgevier, ons het hard gesing en vir God dankie gesê. Ek moenie so treurig en ontsteld wees nie, ek moet glo dat God my sal help, ja, ek sal weer 'n lied sing om Hom te prys. Hy is naby, Hy sal my red, Hy is my God. Wanneer ek so treurig is, dan dink ek aan U hier waar ek is in die land by die Jordaan-rivier en by die Hermon-berge, hier by die Klein-berg. Wanneer U die watervalle laat raas, dan is dit soos wanneer die diep waters vir mekaar skree, en U al die branders en die groot golwe oor my laat spoel. As die Here elke dag vir my doen wat Hy belowe het, dan sal ek elke nag 'n lied vir Hom sing, ek sal bid tot die God wat my laat aanhou lewe. Ek sal vir God sê: My Rots, hoekom het U my vergeet? Hoekom moet ek aanhou rou omdat vyande my laat swaarkry? Dit voel of iemand my doodsteek wanneer my vyande my spot en aanhou sê: “Waar is jou God?”