PSALMS 42:1-11

PSALMS 42:1-11 NLV

Soos ’n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God. Ek verlang na God, die lewende God. Wanneer kan ek ingaan en weer voor Hom verskyn? My trane is my kos, dag en nag, terwyl teenstanders my aanhoudend tart en sê: “Waar is dié God van jou?” As ek nadink hoe dit voorheen was, is ek ontsteld. Toe het ek geloop saam met die aanbidders en ’n optog gelei na die tempel van God terwyl ek sing en jubel saam met die skare wat feesvier. Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God! Tog is ek nou terneergedruk. Ek onthou hoe, vanaf die Jordaangebied, vanaf die berge van Hermon en die hoogte van Miskar, die rumoer van u watervalle druis en dreun. So het al u strome en golwe ook oor my gegaan. Tog sal die HERE bedags weer sy trou betoon. Selfs in die donker nag sing ek sy lied, ’n gebed tot die God van my lewe. Ek sal roep tot God en sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek met rouklere loop omdat die vyand my verdruk?” Dis soos ’n diep wond in my binneste wanneer vyande met my spot, wanneer hulle dag na dag vra: “Waar is jou God?”