Wanneer die Here tevrede is oor hoe 'n mens lewe,
dan lei Hy hom en dan beskerm Hy hom.
Wanneer so 'n mens val, dan val hy nie hard nie,
want die Here hou sy hand vas.
Ek is nou oud, maar vandat ek jonk was tot nou toe,
het ek nie gesien dat die Here
'n mens los wat reg lewe nie,
ek het ook nie gesien dat so 'n mens se nageslag
nie kos het nie.
Die mens wat reg lewe, kan die hele dag lank
goed wees vir ander mense en vir hulle dinge leen,
en sy nageslag laat dit goed gaan met ander mense.
Jy moenie verkeerd doen nie,
jy moet doen wat goed is,
dan sal jy altyd in die land woon.
Want die Here hou daarvan
dat mense reg doen aan ander mense
en Hy los nie die mense wat in Hom glo nie.
Hy beskerm hulle altyd,
maar Hy jaag die nageslag van die mense
wat verkeerd doen, weg.
Die mense wat reg lewe, sal die land kry
en altyd daar woon.
Wanneer die mens wat reg lewe,
sy mond oopmaak en praat,
dan wys hy dat hy wysheid het
en dat hy reg wil doen aan ander mense.
Hy weet wat die Here wil hê hy moet doen,
en hy doen nie verkeerd nie.
Die mens wat verkeerd doen,
probeer om die mens wat reg doen,
te vang wanneer hy iets verkeerd doen,
hy wil hê dat hy moet sterf.
Maar die Here los nie die mens
wat reg doen nie,
daardie mens is nie skuldig wanneer mense hom oordeel nie.
Jy moet glo dat die Here sal doen wat Hy belowe
en jy moet lewe soos Hy wil hê.
Dan sal Hy jou die hoof van die land laat word,
en jy sal sien hoe die mense wat verkeerd doen,
uit die land moet weggaan.
Ek het gesien dat 'n mens wat verkeerd doen,
ander mense verdruk,
ek het gesien dat dit met hom goed gaan,
hy lyk soos 'n boom wat altyd groen is.
Maar toe ek weer daar verbykom,
toe was hy nie meer daar nie.
Ek het hom gesoek,
maar ek het hom nie gekry nie.
Kyk hoe dit gaan met die goeie mens,
die eerlike mens.
Ja, die mens wat vrede wil hê, het 'n nageslag.
Maar die mense wat opstandig is teen die Here,
sal sterf.
Die nageslag van die mense wat verkeerd doen,
sal verdwyn.
Dit is die Here wat die mense red wat reg doen,
Hy beskerm hulle wanneer hulle swaarkry.
Die Here help hulle en Hy maak hulle vry,
Hy maak hulle vry van die mense wat verkeerd doen
en Hy red hulle, want hulle vra
dat Hy hulle moet beskerm.