Julle moet vir die Here dankie sê,
want Hy is goed,
ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.
Die volk Israel moet sê:
“Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.”
Die Aäron-familie moet sê:
“Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.”
Die mense wat die Here dien, moet sê:
“Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.”
Toe dit sleg gegaan het met my,
het ek geroep
en gevra dat die Here my moet help.
Die Here het my geantwoord
en Hy het my vrygemaak.
Wanneer die Here by my is,
dan is ek nie bang nie.
Dan kan ander mense niks aan my doen nie.
Wanneer die Here by my is en Hy help my,
dan sal ek die mense oorwin wat my haat.
Dit is beter om te vra
dat die Here jou moet beskerm,
beter as om te dink dat mense jou sal help.
Dit is beter om te vra
dat die Here jou moet beskerm,
beter as om te dink
dat belangrike mense jou sal help.
Wanneer baie volke my aanval
van al die kante,
dan sal ek hulle terugjaag, want die Here help my.
Wanneer hulle my aanval van al die kante,
ja, wanneer hulle my van al die kante aanval,
dan sal ek hulle terugjaag, want die Here help my.
Wanneer hulle my van al die kante aanval soos bye
en hulle word moeg soos doringtakke wat verbrand,
dan sal ek hulle terugjaag, want die Here help my.
Ek het amper geval,
maar die Here het my gehelp.
Die Here gee vir my krag,
Hy maak my sterk,
Hy laat my wen teen my vyande.
Luister hoe sing die mense wat reg lewe
in hulle huise, hulle sing want hulle het gewen.
Die Here het sy hand opgetel en Hy het hulle gehelp,
Hy het hulle laat wen.
Die Here het sy hand hoog opgetel,
Hy het hulle ver laat wen.
Ek sal nie sterf nie, ek sal lewe
en ek sal vertel wat die Here gedoen het.
Die Here het my swaar gestraf
maar Hy het my nie laat sterf nie.