Nahum 3:8-19

Nahum 3:8-19 ABA

“Nineve, jy is nie beter as die stad No-Amon nie. No-Amon is langs die Nyl-rivier, en daar is water rondom die stad om die stad te beskerm. In die stad was soldate van die land Kus en van Egipte en van Put en van Libië, en daarom was No-Amon baie sterk. Maar die vyande het die mense van No-Amon gevang en weggevat na 'n ander land. Die vyande het die babas doodgemaak in die strate, en hulle het lootjies getrek om te sien wie kry elkeen 'n belangrike mens om sy slaaf te wees. Hulle het die belangrike mense vasgemaak met kettings en hulle weggevat. “Mense van Nineve, julle sal nie weet waar julle is nie, soos dronk mense. Julle sal ook 'n plek soek waar julle kan wegkruip vir julle vyande. Al julle sterk huise is soos ryp vye in vyebome. Wanneer jy die bome skud, dan val die vye in jou mond. So maklik sal julle vyande julle sterk huise vat.” Julle soldate beteken niks. Hulle is soos 'n klomp vroue. Die poorte van julle stad sal oop wees, julle vyande sal die deure in die poorte verbrand. Julle moet genoeg water gaan haal en dit bêre, want julle vyande sal kom wag rondom die stad se mure. Julle moet die stad se sterk mure nog sterker maak. Julle moet bakstene maak van klei. Julle sal brand in die vuur. Die vyande sal julle doodmaak soos sprinkane. Julle het so baie geword soos sprinkane. Julle handelaars was meer as die sterre in die lug, maar hulle is nou weg. Hulle is weg soos sprinkane wat wegvlieg wanneer hulle klaar gevreet het. Die mense wat die stad moes oppas, en die amptenare, is soos sprinkane wat na 'n ander plek vlieg. Die swerms sprinkane sit op die klipmure wanneer dit koud is, maar wanneer dit warm word, dan vlieg hulle weg, en niemand weet waarnatoe hulle gaan nie. Koning van Assirië, die leiers van jou mense slaap. Jou mense het gevlug en hulle is oral op die berge. Daar is niemand wat hulle bymekaarmaak nie. Nineve, die vyande sal jou verwoes, en niemand sal jou weer bou nie. Al die mense sal bly wees, almal wat hoor wat met jou gebeur het. Hulle sal hande klap, want jy het wrede dinge gedoen aan almal.