Markus 6:33-56

Markus 6:33-56 ABA

Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie 'n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer. Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?” Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.” Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en hulle moet voor Hom na die ander kant van die see gaan, na die stad Betsaida. Jesus het agtergebly en vir die mense gesê hulle moet huis toe gaan. Jesus het die mense gegroet, en toe het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook en hulle het hard geskree. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas. Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie. Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret gekom. Hulle het die boot daar vasgemaak. Toe hulle uit die boot klim, het die mense dadelik gesien dit is Jesus. Die mense het na al die plekke gehardloop, en hulle het die siek mense op hulle slaapmatte na Jesus toe gedra. Op elke dorpie, in elke stad en op elke plaas waar Jesus gekom het, het hulle die siek mense op die oop plekke neergesit. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.