Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag. Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig. Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.” Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.” Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!” Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.” Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.” Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit. Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet! Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur. Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid. Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land. Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan. Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het. Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte. Hulle het die see oorgesteek en by Gennesaret geland en anker gegooi. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Jesus dadelik herken. Hulle het toe in die ganse omgewing rondgehardloop en die siekes op slaapmatte begin aandra oral waar hulle gehoor het dat Hy was. En waar Hy ook al gegaan het – in kleiner of groter dorpe, of op plase – het hulle die siekes by die bymekaarkomplekke neergesit en gesoebat om aan Hom te kon raak, al was dit maar net aan die rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.
Lees MARKUS 6
Luister na MARKUS 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 6:33-56
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's