MARKUS 6:33-56

MARKUS 6:33-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.” Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?” Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend. Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie. Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

MARKUS 6:33-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar baie mense wat hulle sien vertrek het, het hulle herken en te voet van al die dorpe af daarheen gestroom, en nog voor hulle daar aangekom. Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig. Toe dit al baie laat begin word, kom sy dissipels na Hom en sê: “Dit is 'n verlate plek, en dit is reeds baie laat. Stuur hulle weg na die plase in die omgewing en na die dorpies om vir hulleself iets te ete te gaan koop.” Maar Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons dan met tweehonderd denarius gaan brood koop en vir hulle gee om te eet?” Maar Hy vra vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Hulle het gaan uitvind en kom sê: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit om saam te eet. Hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. Hy het toe die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Daarna het Hy die brode in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om vir die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel. Daar was vyfduisend mans wat van die brode geëet het. En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en vooruit na die oorkant te vaar, na Betsaida toe, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see, en Hy alleen aan land. Hy het gesien dat hulle worstel met die roeiery, want die wind was teen hulle. Teen ongeveer die vierde nagwaak kom Hy op die see na hulle toe aangeloop, en Hy wou by hulle verbygaan. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook , en hulle het hard geskreeu; want hulle almal het Hom gesien en was vreesbevange. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” Hy het toe by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was uitermate verbaas, want hulle het nie begryp wat met die brode gebeur het nie, omdat hulle harte verhard was. Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan en vasgemeer. Toe hulle uit die boot klim, het die mense Hom dadelik herken. Hulle het haastig deur die hele landstreek gegaan en dié wat siek was, op slaapmatte begin aandra na waar hulle gehoor het Hy is. Waar Hy ook al in gehuggies of in dorpe of op plase gekom het, het hulle die siekes op die markpleine neergesit en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat Hom aangeraak het, is genees.

MARKUS 6:33-56 Bybel vir almal (ABA)

Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie 'n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer. Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?” Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.” Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en hulle moet voor Hom na die ander kant van die see gaan, na die stad Betsaida. Jesus het agtergebly en vir die mense gesê hulle moet huis toe gaan. Jesus het die mense gegroet, en toe het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook en hulle het hard geskree. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas. Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie. Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret gekom. Hulle het die boot daar vasgemaak. Toe hulle uit die boot klim, het die mense dadelik gesien dit is Jesus. Die mense het na al die plekke gehardloop, en hulle het die siek mense op hulle slaapmatte na Jesus toe gedra. Op elke dorpie, in elke stad en op elke plaas waar Jesus gekom het, het hulle die siek mense op die oop plekke neergesit. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

MARKUS 6:33-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader. En toe Jesus uitklim, sien Hy 'n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer. En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat. Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. En almal het geëet en versadig geword; en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne. EN dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur. En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land. En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu; want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was. En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Gennésaret aangekom en daar aan wal gaan lê. En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken, en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is. En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.

MARKUS 6:33-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die volk het hulle sien wegtrek, en baie het hom geken, en uit al die stede daarheen gehardloop en hulle uitgetrek en by hom bymekaargekom. En toe Jesus uitkom, het Hy baie mense gesien en was innig jammer vir hulle, omdat hulle soos skape was wat geen herder het nie; en Hy het hulle baie dinge begin leer. En toe die dag verby was, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en nou is die tyd verby. Stuur hulle weg, dat hulle die land rondom en na die dorpe kan gaan en vir hulle brood kan koop, want hulle het niks om te eet nie. Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Sal ons gaan en brood koop vir twee honderd penninge en hulle om te eet? Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? gaan kyk. En toe hulle dit weet, sê hulle: Vyf en twee visse. En hy het hulle beveel om almal by groepe op die groen gras te laat sit. En hulle het in geledere gaan sit, by honderde en by vyftig. En nadat Hy die vyf brode en die twee visse geneem het, het Hy opgekyk na die hemel en geseën en die brode gebreek en dit aan sy dissipels gegee om voor hulle voor te sit; en die twee visse het hy onder almal verdeel. En hulle het almal geëet en versadig geword. En hulle het twaalf mandjies vol van die brokstukke en van die visse opgetel. En die wat van die brode geëet het, was omtrent vyfduisend man. En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skip te klim en na die oorkant van Betsáida te gaan, terwyl Hy die volk weggestuur het. En nadat Hy hulle weggestuur het, het Hy na die berg gegaan om te bid. En toe dit aand geword het, was die skip in die middel van die see, en hy alleen op die land. En hy het gesien hoe hulle besig was om te roei; want die wind was hulle teë, en omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom terwyl Hy op die see wandel en by hulle verbygegaan het. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dat dit 'n gees was, en het uitgeroep: Want almal het Hom gesien en was ontsteld. En dadelik het Hy met hulle gespreek en vir hulle gesê: Hou goeie moed! Dit is Ek; wees nie bang nie. En hy het na hulle geklim in die skuit; en die wind het gaan lê, en hulle was baie verbaas in hulleself en was verwonderd. Want hulle het die wonder van die brode nie in ag geneem nie, want hulle hart was verhard. En toe hulle deurgetrek het, het hulle in die land Genesaret gekom en na die strand getrek. En toe hulle uit die skip kom, het hulle Hom dadelik geken, En hy het deur daardie hele gebied rondom gehardloop en die siekes in die beddens begin ronddra waar hulle gehoor het dat hy was. En waar hy ook al ingegaan het, in dorpe of stede of lande, hulle het die siekes op die strate neergelê en Hom gesmeek om aan te raak as dit maar die rand van sy kleed was; en almal wat hom aangeraak het, is gesond gemaak.

MARKUS 6:33-56 Die Boodskap (DB)

Maar ’n klomp mense het hulle gesien gaan. Hulle hardloop toe al met die strand langs en was selfs voor Jesus-hulle nog by die plek. Van oral af het die mense gekom. Toe Jesus-hulle daar land, wag daar natuurlik ’n massa mense vir hulle. Dit het Jesus diep geraak. Daar staan die mense rond en hulle lyk net soos ’n klomp skape wat nie ’n herder het om hulle te lei nie. Jesus begin toe met hulle oor God en sy dinge gesels. Dit het later begin skemer raak. Jesus se volgelinge kom hou toe kajuitraad met Hom. “Ons is so ver van winkels af en kyk hoe laat is dit al. Dink U nie dit is ’n goeie plan om die mense te vra om gou by die winkeltjies in die omgewing vir hulle iets te gaan kry om te eet nie?” “Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.” “Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?” “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe. Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord. Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit. Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol. Daar was baie mense; net die mans wat saamgeëet het, was 5 000. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die klomp mense gevra om huis toe te gaan. Hy het ook sy klein groepie getrouste volgelinge solank met die skuit vooruitgestuur na Betsaida toe. Nadat Hy alles gereël het en die mense weg was, is Hy teen die berg op om te gaan bid. Toe dit al goed donker was, was die boot mooi in die middel van die see. Jesus was alleen op die strand. Hy het gesien hoe sy dissipels swoeg met die roeiery, want die wind was teen hulle. Toe die son sy kop begin uitsteek, stap Jesus op die water na hulle toe. Hy wou langs hulle verbystap, maar toe hulle Hom op die water sien loop, dog hulle dit is ’n spook. Hulle het hulle spierwit geskrik. Jesus stel hulle toe dadelik gerus: “Moenie so skrik nie, dit is net Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.” Hy klim toe in die boot by hulle. Daar en dan gaan die wind toe ook lê. Sy volgelinge was heeltemal uit die veld geslaan. Al het hulle gesien hoe so baie mense met so ’n bietjie kos genoeg kry om te eet, het hulle nie verstaan wie Jesus regtig is nie. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Toe hulle anderkant by Gennesaret land, het hulle die skuit daar vasgemaak. Jesus het skaars uit die boot geklim of die mense het Hom herken. Die nuus dat Hy daar is, het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei. Waar Hy ook al gegaan het, het die mense siekes na Hom toe gebring. Of Hy nou in die klein plattelandse plekkies of in die groter dorpe was, die mense het daar vir Hom met hulle siekes gewag. Wanneer Hy by so ’n plek gekom het, het hulle vir Hom by die mark gewag, waar almal altyd saamgekom het. Hulle het Hom dan gesmeek en gesoebat om die siekes net toe te laat om aan Hom te raak. Dié wat aan Hom geraak het, het natuurlik almal gesond geword.

MARKUS 6:33-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag. Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig. Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.” Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.” Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!” Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.” Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.” Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit. Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet! Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur. Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid. Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land. Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan. Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het. Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte. Hulle het die see oorgesteek en by Gennesaret geland en anker gegooi. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Jesus dadelik herken. Hulle het toe in die ganse omgewing rondgehardloop en die siekes op slaapmatte begin aandra oral waar hulle gehoor het dat Hy was. En waar Hy ook al gegaan het – in kleiner of groter dorpe, of op plase – het hulle die siekes by die bymekaarkomplekke neergesit en gesoebat om aan Hom te kon raak, al was dit maar net aan die rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.