Jesus en sy dissipels het naby Jerusalem gekom, by die dorpie Betfage op die Olyf-berg. Jesus stuur toe twee van sy dissipels en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorpie hier voor julle, julle sal 'n donkie en haar vulletjie kry. Julle moet die donkie losmaak en hulle na My toe bring. En wanneer iemand vir julle iets daaroor sê, dan moet julle sê: Die Here wil hulle gebruik, maar Hy sal hulle dadelik weer terugstuur.” Dit het alles gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het toe Hy die profeet gestuur het. Hy het gesê: “ Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe. Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op 'n jong donkie, 'n donkie-vul.” Die twee dissipels het toe gegaan en hulle het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het. Die dissipels het die donkie en haar vulletjie gebring en hulle het van hulle klere oor die donkies gegooi. Jesus het op die donkie gaan sit. Daar was baie mense. Hulle het van hulle klere oopgegooi op die pad. Ander mense het takke van bome afgekap en hulle het dit op die pad gegooi. Die groot klomp mense wat voor Jesus geloop het en die ander mense wat Hom gevolg het, het aangehou om hard te skree en te sê: “Prys die Seun van Dawid! Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen! Prys God in die hoogste hemel.” Toe Jesus in Jerusalem kom, het almal in die stad baie opgewonde geword en gevra: “Wie is hierdie man?” En die mense het gesê: “Dit is die profeet Jesus van die stad Nasaret in die provinsie Galilea.” Jesus het na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te koop en te verkoop. Jesus het hulle almal uitgejaag. Hy het die tafels omgegooi van die mense wat die geld omgeruil het en ook die stoele van die mense wat duiwe verkoop het. Jesus het gesê in die Ou Testament is geskryf: “God het gesê: Die mense sal sê my tempel is 'n plek waar mense moet bid. Maar julle verander dit, dit is nou 'n plek waar diewe bymekaarkom.” Blindes en kreupeles het na Jesus toe gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het die wonderlike dinge gesien wat Jesus gedoen het en hulle het gehoor hoe die kinders op die tempel-gronde hard skree en sê: “Prys die Seun van Dawid!” Toe het die priesterleiers en skrifgeleerdes kwaad geword en hulle het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat die kinders sê?” Jesus sê toe vir hulle: “Ja. Julle kan dit lees: ‘ U laat klein kindertjies oor u krag sing.’ ” Jesus het hulle daar gelos en Hy het uit Jerusalem na die stad Betanië gegaan. Hy het die nag daar gebly. Vroeg die volgende oggend het Jesus teruggegaan na Jerusalem en Hy het honger geword. Hy het 'n vyeboom langs die pad gesien en Hy het daarnatoe gegaan. Toe Hy by die boom kom, sien Hy daar is niks vye nie, net blare. Jesus sê toe vir die boom: “Jy sal nooit weer vye dra nie, dit is seker.” En dadelik het die vyeboom doodgegaan. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en hulle het gevra: “Hoekom het die vyeboom so skielik doodgegaan?” Jesus het geantwoord: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As julle glo en nie twyfel nie, dan sal julle kan doen wat Ek met die vyeboom gedoen het. Julle sal meer kan doen. As julle vir hierdie berg sê: ‘Tel jouself op en gooi jouself in die see,’ dan sal dit gebeur. En as julle glo wanneer julle bid en iets vra, dan sal God dit alles vir julle gee.”
Lees Matteus 21
Deel
Vergelyk alle weergawes: Matteus 21:1-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's