Jesus het toe vir die dissipels 'n gelykenis vertel. Hy wou hê hulle moet verstaan dat 'n mens moet aanhou bid en nie moedeloos moet word nie. Hy het gesê: “In 'n stad was daar 'n regter wat nie bang was vir God nie. Mense was ook nie vir hom belangrik nie. In dieselfde stad was daar 'n weduwee. Sy het na die regter toe gegaan en vir hom gesê: ‘Daar is iemand wat nie reg doen aan my nie. Jy moet my asseblief help.’ Die regter wou haar nooit help nie, maar ná 'n lang tyd het hy gedink: Ek is nie bang vir God nie en mense is nie vir my belangrik nie. Maar ek sal die weduwee help, want sy is lastig en sy sal my nog baie moeg maak as sy so aanhou vra dat ek haar moet help.” Toe sê die Here: “Het julle gehoor wat sê daardie slegte regter? Hy het gesê hy sal die weduwee help, maar God sal sy mense help, dit is seker. Hy het hulle gekies en hulle roep elke dag en nag na Hom. Dink julle Hy sal lank wag om hulle te help? Nee, Ek sê vir julle: Hy sal hulle dadelik help. Julle moet aanhou bid, sodat, wanneer die Seun van die mens kom, Hy mense op die aarde sal kry wat glo.” Daar was party mense wat gedink het alles wat hulle doen, is genoeg om hulle regverdig te maak. Hulle het ook gedink net húlle is belangrik. Maar Jesus het toe hierdie gelykenis vir daardie mense vertel. Hy het gesê: “Twee mans het na die tempel gegaan om te bid. Die een man was 'n Fariseër en die ander man was 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie. Ek vas twee maal in 'n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’ “Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is 'n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ ” Daarna het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, toe hierdie tollenaar weggaan van die tempel, was God tevrede met hom maar nie met die Fariseër nie. Want God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en God sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”
Lees Lukas 18
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 18:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's