Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. Hy het gesê: “Daar was 'n sekere regter in 'n bepaalde stad, wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. Daar was ook 'n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 'n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink: Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my tot aan die einde bly teister.” Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê! Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die •Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”
Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was 'n •Fariseër en die ander 'n •tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien. ’ Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word. ”