Lukas 12:22-40

Lukas 12:22-40 ABA

Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, en hulle het nie stoorkamers waar hulle kos en ander goed bêre nie. Maar God gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. As julle nie julle lewe 'n klein bietjie langer kan maak nie, hoekom is julle dan bekommerd oor al die ander dinge? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle, koning Salomo was ryk en hy het mooi klere aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand hulle in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter vir julle sorg as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. Julle moenie aanhou dink oor wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Julle moenie aanhou bekommerd wees oor alles nie, want al hierdie dinge is belangrik vir die mense van die wêreld, die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God die Koning is. Dan sal Hy al hierdie ander dinge vir julle gee. Julle is min, maar julle moenie bang wees nie, want julle Vader wil graag julle Koning wees. Dit sal beter wees as julle al julle goed verkoop en vir die arm mense sorg. Julle moet vir julleself beursies maak wat nie oud word nie, julle moet goed hê wat altyd daar sal wees. Dan sal julle ryk wees, julle sal in die hemel by God goed hê wat nie opraak nie. Daar kan diewe dit nie steel nie, en motte kan dit nie opvreet nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir julle die belangrikste wees. Dan sal julle net dink aan God wat in die hemel is.” “Julle moet altyd gereed wees, julle lampe moet altyd brand. Julle moet wees soos slawe wat wag dat hulle eienaar terugkom van die fees by 'n bruilof. Wanneer die eienaar kom en aan die deur klop, dan maak die slawe dadelik die deur vir hom oop. Die slawe wat wakker is wanneer die eienaar kom, sal baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal sê hulle moet by die tafel kom sit. Hy sal sy voorskoot aansit en hy sal hulle bedien. Ja, daardie slawe sal waarlik gelukkig wees as hulle gereed is, ook as die eienaar laat in die nag of baie vroeg in die oggend kom en hy sien sy slawe is wakker. Maar ook die eienaar van 'n huis moet wakker en gereed wees, want as hy weet presies hoe laat die dief kom, dan sal hy seker maak dat die dief nie by sy huis kan inbreek nie. Julle moet ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.”