Lukas 12:22-40

Lukas 12:22-40 AFR20

Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie 'n stoorkamer of 'n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? As julle nie eers so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res? “Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie, en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges! “Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder sy •koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, 'n onuitputlike skat in die hemel, waar 'n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die •bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. Wees julle ook gereed, want die •Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”