Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.”
Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid. Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.”
Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.”
Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.”
Maria het gesê: “Ek sal doen wat die Here wil hê. Die Here kan met my doen wat jy gesê het.”
Toe het die engel weggegaan van haar.
Nie lank daarna nie het Maria haastig na 'n stad in Judea gegaan, na 'n plek op die berge. Sy het in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.”
Toe het Maria gesê:
Ek prys die Here
met my hele hart.
My hart is bly oor God
wat my red.
Hy het my gesien en gehelp,
vir my, sy nederige dienaar.
Van nou af sal al die mense sê
ek is baie gelukkig,
want God wat alles kan doen,
het wonderlike dinge
vir my gedoen.
Sy Naam is heilig.
Hy sal altyd goed wees
vir die mense wat Hom eer.
Hy het gewys Hy is sterk.
Hy het die hoogmoedige mense
weggejaag na al die kante toe.
Hy het konings laat ophou regeer,
maar Hy het mense
wat nie belangrik is nie,
belangrik gemaak.
Hy het vir honger mense
genoeg kos gegee,
maar vir die ryk mense
het Hy niks gegee nie.
Hy het sy volk Israel gehelp,
Hy het onthou dat Hy belowe het
om goed te wees vir hulle,
vir ons voorvaders,
vir Abraham en sy nageslag,
vir altyd.