Levitikus 25:47-52

Levitikus 25:47-52 ABA

'n Vreemdeling of 'n bywoner by julle het miskien genoeg geld, of 'n Israeliet word miskien so arm dat hy homself moet verkoop aan die vreemdeling of sy familie. Dan mag iemand die Israeliet loskoop. Een van sy broers moet hom loskoop, of sy oom of sy neef of 'n ander familielid moet hom loskoop, of as hy dit self kan doen, dan mag hy dit doen. Hy en die man wat hom gekoop het, moet tel hoeveel jare dit is vandat hy homself verkoop het en soos 'n dagloner vir die man gewerk het, tot die Hersteljaar, en dan moet hy betaal om vry te word. As dit baie jare is tot die Hersteljaar, dan moet hy baie betaal om vry te word. As daar nie baie jare oorbly tot die Hersteljaar nie, dan moet hy net betaal vir elke jaar.