Josua 8:1-10

Josua 8:1-10 ABA

Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang en bekommerd wees nie, jy moet al die manne neem wat kan oorlog maak en jy moet dadelik na die stad Ai gaan. Ek sal jou laat wen teen die koning van Ai en sy manne, en teen sy stad en sy land. Jy moet met Ai en sy koning dieselfde doen wat jy met Jerigo en sy koning gedoen het, maar julle mag die goed in die stad en die diere vir julleself hou. Jy moet manne laat wegkruip sodat hulle die stad van agter kan aanval.” Josua en al die manne wat kon oorlog maak, het dadelik na Ai gegaan. Josua het 30 000 manne gekies wat goed oorlog kon maak en hy het hulle in die nag gestuur en vir hulle gesê: “Julle moet agter die stad gaan wegkruip, maar julle moenie ver van die stad wees nie en julle moet almal gereed wees. Ek en die manne by my sal nader kom na die stad, en wanneer hulle soos voorheen weer kom om ons aan te val, dan sal ons wegvlug van hulle. Hulle sal aanhou om na ons toe te kom totdat hulle ver van die stad is, want hulle sal dink ons vlug weg van hulle, soos voorheen. Dan moet julle opstaan waar julle weggekruip het en julle moet die stad vat. Julle God die Here sal julle help om te oorwin. Wanneer julle die stad gevat het, dan moet julle dit aan die brand steek. Die Here het gesê ons moet dit doen, en nou sê ek julle moet dit doen.” Josua het die manne gestuur, en hulle het gaan wegkruip wes van Ai, tussen die stad Bet-El en Ai. Josua het daardie nag tussen die ander manne geslaap. Hy het vroeg opgestaan en hy het die manne laat gereedmaak. Hy en die leiers van die Israeliete het voor die manne na Ai geloop.