Johannes 6:32-59

Johannes 6:32-59 ABA

Jesus het vir die mense gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle dink dit is Moses wat vir julle die brood gegee het wat uit die hemel gekom het. Nee, dit is my Vader wat nou vir julle die regte brood gee wat uit die hemel kom. Die brood wat God gee, is Iemand wat uit die hemel kom om vir die mense van die wêreld die ware lewe te gee.” Die mense het vir Jesus gevra: “Meneer, jy moet altyd vir ons van hierdie brood gee.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood wat die lewe gee. Almal wat na My toe kom, sal nooit geestelik honger word nie. Almal wat in My glo, sal nooit geestelik dors word nie. Maar Ek het klaar vir julle gesê dat julle sien wat Ek doen, maar julle glo nie in My nie. Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. Ek sal iemand wat na My toe kom, nooit wegjaag nie. Ek het uit die hemel gekom, nie om self te besluit wat Ek wil doen nie, maar om te doen wat die Vader wil hê Ek moet doen, die Vader wat My gestuur het. Die Vader wat My gestuur het, wil hê Ek moenie een van die mense wat Hy vir My gegee het, laat verlore gaan nie. Hy wil hê Ek moet hulle op die laaste dag weer laat lewe. My Vader wil hê elkeen wat My sien en wat glo in My, die Seun, moet die ewige lewe kry. Ek sal hulle almal op die laaste dag weer laat lewe.” Die Jode was baie ontevrede en hulle het oor Jesus begin kla. Hulle het nie daarvan gehou dat Jesus gesê het Hy is die brood wat uit die hemel kom nie. Die Jode het vir mekaar gesê: “Jesus is die seun van Josef, ons ken sy pa en sy ma. Hy kan nie sê dat hy uit die hemel kom nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet ophou kla. My Vader het My na die wêreld gestuur. As die Vader iemand nie trek nie, dan kan daardie persoon nie na My toe kom nie, maar as die Vader hom trek, sal Ek hom op die laaste dag weer laat lewe. Een van die profete in die Ou Testament het geskryf: “ Hulle sal almal God se leerlinge wees. “Dit beteken dat elkeen wat na die Vader luister en wat by Hom leer, na My toe kom. Dit beteken nie dat iemand anders ook die Vader gesien het nie. Net Ek het die Vader gesien, Ek wat van God kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Elkeen wat in My glo, sal altyd lewe. Ek is die brood wat die ewige lewe gee. Julle voorvaders het manna geëet in die woestyn, maar hulle het later gesterf. Maar die brood wat uit die hemel kom, is anders. Elkeen wat van hierdie brood eet, sal nooit sterf nie. Ek is die brood wat self lewe en wat ook lewe gee. Ek kom uit die hemel. As iemand van hierdie brood eet, dan sal hy altyd lewe. Die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense van die wêreld altyd kan lewe.” Die Jode het toe baie met mekaar gestry en gesê: “Hoe kan Jesus vir ons sy liggaam gee om te eet?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun van die mens. As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, dan sal julle nie altyd lewe nie. Iemand wat my liggaam eet en my bloed drink, sal altyd lewe. Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe. Dit sal gebeur, want my liggaam en my bloed is die ware kos. Wanneer iemand my liggaam eet en my bloed drink, dan is Ek by hom en hy is by My. Die Vader lewe. Hy het My gestuur en Hy laat My lewe. So laat Ek ook almal lewe wat my liggaam eet. Julle moet verstaan dat die brood wat uit die hemel gekom het, heeltemal anders is as die manna wat julle voorvaders in die woestyn geëet het. Hulle het nie aangehou lewe nie, hulle het gesterf, maar iemand wat hierdie brood uit die hemel eet, sal altyd lewe.” Jesus het al hierdie dinge oor die brood wat uit die hemel kom, vir die mense geleer in die sinagoge in Kapernaum.