Johannes 12:37-50

Johannes 12:37-50 ABA

Die mense het baie wondertekens gesien wat Jesus gedoen het, maar hulle het nie in Jesus geglo nie. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: Here, niemand het geluister na wat ons sê nie, niemand het besef hoe sterk die Here is nie. Jesaja het ook gesê hoekom hulle nie kon glo nie. Hy het gesê: God het die mense se oë blind gemaak, Hy het hulle harte hard gemaak. Daarom kon hulle oë nie sien nie, en hulle harte kon nie verstaan nie, en hulle het nie begin lewe soos God wil hê nie. Daarom sal Ek hulle nie gesond maak nie, sê God. Jesaja het dit alles gesê, want hy het gesien Jesus is God. Hy het van Jesus gepraat. Baie mense het in Jesus geglo, ook party van die leiers, maar hulle het dit vir niemand vertel nie. Hulle was bang dat die Fariseërs sal sê hulle mag nooit weer in die sinagoge kom nie. Daardie leiers wou meer belangrik wees vir mense as vir God. Jesus het hard gesê: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, hy glo ook in God wat My na die wêreld gestuur het. Ja, as iemand My sien, dan sien hy ook vir God wat My na die wêreld gestuur het. Ek het gekom om 'n lig vir die mense van die wêreld te wees. Daarom sal elkeen wat in My glo, nie meer in die donker lewe nie. Ek het nie gekom om die mense van die wêreld te oordeel nie. Ek het gekom om hulle te red. Daarom, wanneer mense hoor wat Ek sê, maar hulle doen nie wat Ek sê nie, sal Ék hulle nie oordeel nie, die woorde wat Ek gesê het, sal hulle oordeel op die laaste dag. Hulle glo nie in My nie en hulle luister nie na wat Ek sê nie. Die dinge wat Ek gesê het, kom nie van My nie. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, het vir My gesê presies wat Ek moet sê. Ek weet die dinge wat die Vader vir My gesê het om te doen, laat mense vir altyd lewe. Daarom sê Ek wat die Vader vir My gesê het.”