Rigters 2:16-23

Rigters 2:16-23 ABA

Partymaal het die Here vir die Israeliete leiers gegee, en dan het die leiers die Israeliete gered van die mense wat die Israeliete se goed kom vat het. Maar die Israeliete het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die Israeliete het ander gode gedien en voor hulle gebuig. Ja, die Israeliete het nie gedoen soos hulle voorvaders gedoen het nie. Hulle voorvaders was gehoorsaam aan die gebooie van die Here, maar nou het die Israeliete dit nie meer gedoen nie. Wanneer die Here vir die Israeliete 'n leier gegee het, dan was die Here by die leier. Die Here het die Israeliete gered van hulle vyande terwyl die leier gelewe het. Die Here het hulle gered, want Hy was jammer vir hulle wanneer vyande hulle verdruk en laat swaarkry. Maar wanneer daardie leier sterf, dan het hulle nog slegter dinge gedoen as hulle voorvaders. Hulle het ander gode gedien en voor die gode gebuig. Hulle het aangehou om verkeerde dinge te doen. Die Here het baie kwaad geword vir die Israeliete. Hy het gesê: “Hierdie mense doen nie wat Ek vir hulle voorvaders gesê het nie, hulle is ongehoorsaam. Daarom sal Ek nie die volke wegjaag voor die Israeliete nie, nie een van die volke wat Josua laat oorbly het nie. Ek wil die Israeliete toets, Ek wil kyk of hulle soos hulle voorvaders sal doen wat Ek wil hê.” Die Here het toe party van die volke daar laat bly, Hy het hulle nie dadelik weggejaag nie. Hy het nie vir Josua gesê om oorlog te maak teen daardie volke nie.