Jesaja 40:1-11

Jesaja 40:1-11 ABA

Die profeet het gesê: “Julle moet vir my volk sê dit sal nou beter gaan, julle moet sê dit sal beter gaan.” Dit sê julle God. “Julle moet die mense van Jerusalem bly maak, julle moet vir hulle sê hulle is nou nie meer slawe nie, hulle het klaar swaargekry. Ek het hulle klaar gestraf oor al hulle sondes.” Iemand het geskree: “Julle moet in die woestyn 'n pad gereedmaak vir die Here, julle moet die pad gelykmaak vir ons God! Julle moet al die valleie toegooi met grond en julle moet al die berge plat maak, julle moet die heuwels wegvat sodat die grond gelyk is. Dan sal die Here verskyn en Hy sal vir almal wys Hy is die Koning. Die Here self het gesê dat Hy dit sal doen.” Iemand het gesê: “Jy moet hard praat sodat almal jou kan hoor.” En ek het gesê: “Wat moet ek sê? Mense is soos gras, ook as hulle mooi en goed is, is hulle soos die veldblomme. Wanneer die Here die wind laat waai oor die gras en die blomme, dan word hulle droog en hulle verlep. Ja, die mense is soos gras. Gras en blomme word droog en verlep, maar die dinge wat ons God sê, sal nooit verander nie.” Mense van Jerusalem, mense van Sion, julle moet die boodskappers wees wat die goeie nuus bring. Julle moet hoog op 'n berg klim en hard skree. Julle moenie bang wees nie, julle moet vir die stede van Juda sê: “Hier kom julle God! Kyk, die Here kom, Hy is die Sterk God, Hy kan doen wat Hy wil doen. Kyk, Hy bring sy mense saam, sy volk is by Hom. Hy sal vir hulle sorg soos 'n herder vir sy skape sorg. Hy sal die skaap-lammers bymekaarmaak en teen sy bors dra, Hy sal die ooie wat lammers het, so lei dat hulle nie seerkry nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid