JESAJA 40:1-11

JESAJA 40:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die profeet het gesê: “Julle moet vir my volk sê dit sal nou beter gaan, julle moet sê dit sal beter gaan.” Dit sê julle God. “Julle moet die mense van Jerusalem bly maak, julle moet vir hulle sê hulle is nou nie meer slawe nie, hulle het klaar swaargekry. Ek het hulle klaar gestraf oor al hulle sondes.” Iemand het geskree: “Julle moet in die woestyn 'n pad gereedmaak vir die Here, julle moet die pad gelykmaak vir ons God! Julle moet al die valleie toegooi met grond en julle moet al die berge plat maak, julle moet die heuwels wegvat sodat die grond gelyk is. Dan sal die Here verskyn en Hy sal vir almal wys Hy is die Koning. Die Here self het gesê dat Hy dit sal doen.” Iemand het gesê: “Jy moet hard praat sodat almal jou kan hoor.” En ek het gesê: “Wat moet ek sê? Mense is soos gras, ook as hulle mooi en goed is, is hulle soos die veldblomme. Wanneer die Here die wind laat waai oor die gras en die blomme, dan word hulle droog en hulle verlep. Ja, die mense is soos gras. Gras en blomme word droog en verlep, maar die dinge wat ons God sê, sal nooit verander nie.” Mense van Jerusalem, mense van Sion, julle moet die boodskappers wees wat die goeie nuus bring. Julle moet hoog op 'n berg klim en hard skree. Julle moenie bang wees nie, julle moet vir die stede van Juda sê: “Hier kom julle God! Kyk, die Here kom, Hy is die Sterk God, Hy kan doen wat Hy wil doen. Kyk, Hy bring sy mense saam, sy volk is by Hom. Hy sal vir hulle sorg soos 'n herder vir sy skape sorg. Hy sal die skaap-lammers bymekaarmaak en teen sy bors dra, Hy sal die ooie wat lammers het, so lei dat hulle nie seerkry nie.”

JESAJA 40:1-11 Die Boodskap (DB)

Julle God sê: Gaan praat my volk moed in. Gaan troos hulle. Praat mooi met die mense van Jerusalem. Sê vir hulle: Julle gaan nie aanhou swaarkry nie. Julle straf is nou verby. Julle het heeltemal klaar betaal vir alles wat julle teen die Here verkeerd gedoen het. Luister, daar is ’n stem wat uitroep: “Bou ’n pad vir die Here deur die woestyn. Maak vir ons God ’n breë, reguit pad dwarsdeur die veld. Vul die leegtes op. Stoot die berge en die heuwels plat. Maak die draaie reguit. Maak die klipperige grond glad. Dan sal die Here kom. Almal saam sal sien hoe wonderlik die Here is. Die Here het self belowe dat Hy sal kom.” Iemand sê vir my: “Jy moet ’n boodskap gaan bring.” Ek vra: “Wat moet ek gaan sê?” “Gaan sê vir hulle dat alle mense eintlik maar soos gras is wat weer doodgaan. Hulle is soos die blomme in die veld. Binne ’n dag is hulle klaar geblom. Wanneer die Here die wind daaroor laat waai, droog die gras uit en die blomme gaan dood. Die mense is ook maar soos die gras. Gras droog uit. Blomme gaan dood. Maar wat die Here sê, hou vir altyd.” Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus. Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het. Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan. Sê vir die dorpe in Juda: “Kyk, die Here gaan kom!” Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee sy beloning. Hy kom gee ook sy straf. Hy sal vir sy volk sorg soos ’n skaapwagter sy skape oppas. Hy dra die lammers in sy arms. Hy hou hulle teen Hom vas. Hy sorg vir elke lammer se ma.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid