JESAJA 40:1-11

JESAJA 40:1-11 NLV

“Troos, troos my volk,” sê julle God. “Praat sag met Jerusalem. Sê vir hom sy hartseerdae is verby. Sy sondes is vergewe. Die HERE het hom klaar gestraf vir al sy sondes.” Luister! Ek hoor die stem van iemand wat roep: “Bou ’n grootpad vir die HERE deur die woestyn. Maak ’n reguit pad vir ons God deur die wildernis. Vul die valleie op! Maak elke berg en heuwel gelyk, elke ruwe plek ’n gelykte, elke koppie ’n vlakte. Dan sal die heerlikheid van die HERE bekend word en alle mense sal dit sien. Die HERE self het so gesê.” ’n Stem sê: “Roep!” Ek het gevra: “Wat moet ek roep?” “Roep uit: Alle mense is soos gras. Hulle bekoorlikheid is soos blomme van die veld. Gras verdor en blomme verwelk as die HERE sy asem daaroor laat waai. So is dit ook met mense. Gras verdor, blomme verwelk, maar die woord van God bly vir altyd.” Boodskapper van goeie nuus, roep vir die tempelberg van die bergpieke af! Boodskapper van goeie tyding, roep hard vir Jerusalem! Moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Hier is jou God!” Die oppermagtige HERE kom met heerlike krag en regeer met mag. Kyk, Hy bring sy beloning saam. Dit is by Hom. Hy versorg sy kudde soos ’n herder. Die lammers maak Hy bymekaar in sy arms, en dra hulle naby sy hart. Skaapooie met lammers versorg Hy.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid