Laban het twee dogters gehad. Die oudste dogter was Lea, en die jongste was Ragel. Lea se oë was nie mooi nie, maar Ragel was 'n baie mooi vrou. Jakob het verlief geraak op Ragel. Hy sê toe vir Laban: “Ek sal sewe jaar vir jou werk om jou jongste dogter Ragel te kry.” Laban het gesê: “Goed. Dit is beter dat ek haar vir jóú gee as vir 'n ander man. Jy mag hier by my woon.” Jakob het sewe jaar lank gewerk om Ragel te kry, maar dit het vir hom so kort gevoel soos 'n paar dae, want hy was baie lief vir haar. Ná die sewe jaar sê Jakob vir Laban: “Gee nou my vrou vir my, want die sewe jaar is verby en ek wil met haar trou.” Laban het al die mense van daardie plek bymekaargemaak en hulle het 'n groot fees gehou. Maar daardie aand het Laban sy dogter Lea vir Jakob gegee. Jakob het seks gehad met Lea. Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea gegee. Die volgende oggend het Jakob gesien dit is Lea wat sy vrou geword het. Toe sê hy vir Laban: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het by jou gewerk om vir Ragel te kry. Hoekom het jy my bedrieg?” Toe sê Laban: “Hier by ons laat ons nie die jongste dogter voor die oudste trou nie. Wanneer hierdie week verby is, dan sal ek my jongste dogter ook vir jou gee, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.” Jakob het gedoen wat Laban gevra het. Jakob het gewag totdat die week verby was. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir Jakob en sy het ook Jakob se vrou geword. Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel gegee. Jakob het ook met Ragel seks gehad, en hy was meer lief vir Ragel as vir Lea. Hy het nog sewe jaar lank vir Laban gewerk. Die Here het gesien dat Jakob minder lief is vir Lea as vir Ragel. Die Here het vir Lea kinders gegee, maar Ragel kon nie kinders kry nie. Lea het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het hom Ruben genoem. Sy het gesê: “Die Here het gesien dat ek swaarkry. Nou sal my man vir my ook lief wees.” Later het sy weer swanger geword en sy het nog 'n seun gekry. Toe sê sy: “Die Here het gesien dat Jakob minder lief is vir my, en Hy het vir my ook hierdie seun gegee.” Daarom het sy hom Simeon genoem. Toe Lea weer swanger word en nog 'n seun kry, sê sy: “Nou sal my man baie meer lief wees vir my, want ek het drie seuns vir hom gekry.” Daarom het sy hom Levi genoem. Sy het weer swanger geword en nog 'n seun gekry en gesê: “Nou prys ek die Here.” Daarom het sy hom Juda genoem. Sy het nie gou weer kinders gekry nie.
Lees Genesis 29
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 29:16-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's