2 Korintiërs 9:6-15

2 Korintiërs 9:6-15 ABA

Julle moet onthou: As iemand min saai, dan kry hy min, en as hy baie saai, dan kry hy baie. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het. Dit moenie vir hom swaar wees om te gee nie, en hy moenie gee omdat iemand sê hy móét gee nie. Onthou, God is lief vir mense wat bly is wanneer hulle gee. God kan vir julle baie goeie dinge gee, sodat julle meer as genoeg sal hê. En dan sal julle altyd genoeg hê van alles wat julle nodig het. Maar dan sal julle ook meer as genoeg hê om te gee vir mense wat nie genoeg het nie. In die Ou Testament is geskryf: Hy gee graag, hy gee vir die arm mense, hy doen wat God wil hê, en hy hou nooit op nie. God is die Een wat saad gee vir die persoon wat saai, en Hy gee kos om te eet. Hy sal ook vir julle saad gee en Hy sal dit meer laat word. As julle doen wat God wil hê, dan sal Hy dit meer en meer laat word. God sal vir julle genoeg gee van alles sodat julle altyd graag vir ander mense sal wil gee. En dan sal die gelowiges in Jerusalem vir God dankie sê wanneer ons die geld vir hulle gee wat julle gekollekteer het. As ons die geld wat julle bymekaargemaak het, gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan sal hulle genoeg hê om te lewe. En dan sal die ander gelowiges ook meer en meer vir God wil dankie sê. As julle hierdie geld gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan het julle die toets geslaag. Dan wys dit dat julle gehoorsaam is wanneer julle sê dat julle die goeie boodskap van Christus glo. Dit wys ook dat julle jammer is vir die gemeente in Jerusalem en vir al die gemeentes. En dan sal die gelowiges vir God prys. En wanneer die gelowiges in Jerusalem vir julle bid, dan verlang hulle na julle. Want hulle sien dat God ook genadig was vir julle. Ons sê vir God dankie vir sy groot present. Dit is so groot dat 'n mens nie kan sê hoe groot dit is nie.

Video vir 2 Korintiërs 9:6-15