1 Konings 6

6
Salomo bou die tempel
(Kyk ook 2 Kron 3:1-14)
1Salomo het die tempel gebou in die 480ste jaar nadat die Israeliete uit Egipte gekom het. Dit was in die vierde jaar nadat Salomo koning geword het, in die maand Sif, dit is die tweede maand. 2Die tempel wat Salomo vir die Here gebou het, was 60 el lank, 20 el breed en 30 el hoog. 3Die voorportaal by die voorkant van die tempelgebou was 20 el lank en tien el breed. Die voorportaal was so lank soos wat die tempel breed was. 4Salomo het vensters in die mure van die tempel gesit. 'n Mens kon die vensters toemaak. 5Hy het nog 'n gebou teen die buitemuur van die tempel gebou. Dit was rondom die voorste en die binneste kamers en dit was drie verdiepings hoog. 6Die onderste verdieping was vyf el breed, die middelste verdieping was ses el breed en die boonste verdieping was sewe el breed. Hy het dit so gebou omdat hy hierdie gebou se muur téén die muur van die tempel gebou het, hy het dit nie ín die tempelmuur vasgebou nie. 7Hulle het die tempel gebou van klip wat hulle klaar gekap het. 'n Mens het nie hamers en beitels en ander yster-gereedskap gehoor raas toe hulle die tempel gebou het nie. 8Die deur na die onderste verdieping was langs die kant van die tempel, by die suidekant, en daar was trappe na die middelste en boonste verdiepings. 9Salomo het die tempel klaar gebou en hy het 'n dak opgesit. Die dak was van rye dik sederhout pale. 10Elke verdieping van die gebou wat hy teen die tempel gebou het, was vyf el hoog, en die vloere en die dak was van sederhout pale wat op die muur teen die tempel gelê het.
11Die Here het met Salomo gepraat en gesê: 12“Jy bou nou die tempel. As jy lewe soos Ek in my wette sê en as jy doen wat Ek wil hê, dan sal Ek met jou doen wat Ek vir jou pa Dawid belowe het. 13Ek sal by die Israeliete woon en Ek sal nie weggaan van hulle nie.”
14Salomo het die tempel gebou en hy het dit klaargemaak. 15Hy het die mure binne-in die tempel met sederhout planke toegemaak. Die planke was van die vloer tot teen die dak, en hy het die vloer van sipreshout planke gemaak. 16Agter in die tempel het hy 'n muur van sederhout planke gebou. Die muur was van die vloer tot teen die dak, en agter die muur was 'n kamer wat 20 el lank was. Dit was die binneste kamer, die hoog-gewyde kamer. 17Die voorste kamer van die tempel was 40 el lank. 18Salomo het bitterappels en blomme laat uitsny op die mure van die tempel se binnekant. Alles was van sederhout, 'n mens kon nie die klip van die mure sien nie. 19Hy het die binneste kamer in die tempel gereedgemaak om die verbondskis van die Here daar te sit. 20Die binneste kamer was 20 el lank en 20 el breed en 20 el hoog, en Salomo het die mure laat toemaak met dun goudplate. Hy het die altaar voor die binneste kamer van sederhout laat maak. 21Hy het die mure van die tempel se binnekant laat toemaak met dun goudplate en hy het goue kettings voor die binneste kamer laat hang. 22Hy het die hele tempel se binnekant met goud laat toemaak, die hele tempel en die altaar voor die binneste kamer. 23Hy het twee gerubs van olyfhout in die binneste kamer gesit. Elke gerub was tien el hoog. 24Elke vlerk van 'n gerub was vyf el lank. Dit was tien el van die punt van een vlerk tot by die punt van die ander vlerk. 25Die twee gerubs was ewe groot en hulle het dieselfde gelyk. 26Elke gerub was tien el hoog. 27Salomo het die twee gerubs in die binneste kamer gesit. Hulle vlerke was oop, die punt van een gerub se vlerk het aan die een muur geraak, en die ander gerub se vlerk het aan die ander muur geraak. In die middel van die kamer het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak. 28Hy het die gerubs met goud laat toemaak. 29Salomo het gerubs, palmbome en blomme laat uitsny op al die mure van die tempel, in die voorste kamer en in die binneste kamer. 30Hy het ook die vloere van die voorste kamer en die binneste kamer met goud laat toemaak. 31Hy het twee deure van olyfhout vir die binneste kamer laat maak. Die rame van die deure het vyf hoeke gehad. 32Hy het gerubs, palmbome en blomme laat uitsny op die twee deure en hy het dit alles met goud toegemaak. 33Hy het dieselfde gedoen met die deur van die voorste kamer, maar die raam van die deur het vier hoeke gehad. Die raam was van olyfhout. 34Die twee deure was van sipreshout en dit was swaaideure. 35Hy het gerubs, palmbome en blomme op die deure laat uitsny en hy het dit alles met goud toegemaak. 36Rondom die binneste oop stuk grond voor die tempel het hy 'n muur gebou. In die muur was drie rye gekapte klip en een ry sederhout opmekaar.
37Hulle het die onderste klippe van die tempelmure op hulle plekke neergesit in die vierde jaar, in die maand Sif, 38en die tempel en alles daarby was klaar in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Salomo het sewe jaar lank gebou, en toe was die tempel klaar.

Tans Gekies:

1 Konings 6: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid