1 Konings 5

5
Salomo en koning Hiram van Tirus maak 'n ooreenkoms
(Kyk ook 2 Kron 2:2-17)
1Koning Hiram van Tirus was altyd 'n vriend van Dawid totdat Dawid gesterf het. Toe Hiram hoor dat hulle vir Salomo gesalf het om koning te wees ná sy pa, het hy party van sy amptenare na Salomo toe gestuur. 2Salomo het vir die amptenare gesê hulle moet vir Hiram sê: 3“Jy weet self dat my pa Dawid oorlog moes maak teen al die volke rondom sy land totdat die Here hom laat wen het teen hulle. Daarom kon hy nie 'n tempel bou vir sy God die Here nie. 4Maar nou het my God die Here vir my vrede gegee met al die volke rondom my land. Ek het nie vyande nie en daar is nie gevaar nie. 5En daarom wil ek nou 'n tempel bou vir my God die Here. Ek wil dit doen soos die Here vir my pa Dawid gesê het. Die Here het gesê: ‘Ek sal jou seun koning laat word ná jou, en hý sal die tempel bou vir My.’ 6Nou moet jy vir jou werkers sê hulle moet vir my sederbome afkap op die Libanon-berg. My werkers sal saam met jou werkers werk. Ek sal jou werkers betaal, jy moet sê hoeveel ek vir hulle moet gee. Jy weet self ons het nie mense wat so goed bome kan afkap soos die mense van Sidon nie.”
7Hiram was baie bly toe hy Salomo se boodskap kry. Hy het gesê: “Ek prys die Here vandag dat Hy vir Dawid so 'n wyse seun gegee het om koning te wees oor hierdie belangrike volk.”
8Hiram het vir Salomo laat weet: “Ek het jou boodskap gekry. Ek sal vir jou al die sederbome en sipresbome gee wat jy wil hê. 9My werkers sal dit van die Libanon-berg afbring na die see. Ek sal vlotte maak van die hout en ek sal dit vir jou bring, jy moet sê na watter plek. Ek sal die hout van die vlotte daar losmaak, en jy kan die hout dan verder neem. En jy moet dan vir die mense in my paleis kos gee, soveel kos soos ek wil hê.”
10Hiram het vir Salomo soveel sederhout en sipreshout gegee soos hy wou hê, 11en Salomo het elke jaar vir Hiram 20 000 kor koring en 20 kor skoon olyf-olie gegee vir die mense in sy paleis. 12Die Here het vir Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle het 'n ooreenkoms gemaak.
Salomo maak gereed om die tempel te bou
13Koning Salomo het 30 000 werkers uit die hele land Israel laat kom 14en hy het elke maand 10 000 van hulle in groepe na die Libanon-berg gestuur. Hulle was 'n maand op die Libanon-berg en dan weer twee maande by die huis. Adoniram was die hoof van die werkers. 15Salomo het ook 70 000 mans gehad wat die hout moes dra en 80 000 mans wat die klippe in die berge moes kap. 16Daar was ook 3 300 hoofde wat moes kyk dat die werkers hulle werk doen. 17Hulle het groot klippe uitgehaal soos die koning gesê het. Dit was goeie klippe en hulle het dit gekap sodat hulle die fondamente van die tempel daarmee kon bou. 18Die bouers van Salomo en die bouers van Hiram en die mense van die stad Gebal het die klippe gekap en hulle het die hout en die klippe gereedgemaak om die tempel te bou.

Tans Gekies:

1 Konings 5: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid