Koning Dawid het geantwoord en gesê: “Gaan roep vir Batseba en sê sy moet hier voor my kom staan.”
Die koning het toe belowe en gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat elke maal my lewe gered het toe dit vir my gevaarlik was, ek hét vir jou belowe dat jou seun Salomo koning sal word ná my en dat hy in my plek op my troon sal sit. Ek het toe gesê my God die Here moet die getuie wees, en ek belowe dit vandag weer.”
Batseba het gekniel met haar gesig teen die grond en sy het voor die koning gebuig en gesê: “Ek bid dat Meneer die koning Dawid vir altyd sal lewe.”
Daarna het koning Dawid gesê: “Gaan roep die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada, en sê hulle moet voor my kom staan.”
Die koning het toe vir hulle gesê: “Julle moet die manne saamneem wat die koning moet oppas en julle moet my seun Salomo op my eie muil laat ry. Julle moet hom na die Gihon-fontein bring. Daar moet die priester Sadok en die profeet Natan hom salf om koning te wees oor Israel. Dan moet julle die ramshoring blaas en sê: ‘Ons bid dat koning Salomo lank sal lewe!’ Julle moet saam met hom kom, en hy moet op my troon kom sit en koning wees in my plek. Ek het gesê dit is hý wat moet regeer oor Israel en oor Juda.”
Benaja seun van Jojada het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat jy gevra het. Ek bid dat die Here, die God van Meneer die koning, dit sal laat gebeur. Ek bid dat die Here by Salomo sal wees soos Hy by Meneer die koning was. Ek bid ook dat die troon van Salomo belangriker sal word as die troon van Meneer die koning Dawid.”
Die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die Filistynse manne wat die koning moes oppas, het gegaan en hulle het vir Salomo op koning Dawid se muil laat ry. Hulle het hom na die Gihon-fontein geneem. Die priester Sadok het die horing en olyf-olie uit die gewyde tent saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en al die manne sê: “Ons bid dat die koning lank sal lewe!”
Al die mense het saam met Salomo gegaan. Hulle het fluite geblaas en hulle was baie bly. Hulle het so hard geskree dat die aarde gebewe het. Adonia en al die gaste wat hy genooi het, het klaar geëet en hulle het gehoor dat die mense skree. Toe Joab hoor hulle blaas die ramshoring, het hy gevra: “Hoekom raas die mense so in die stad?”
Terwyl Joab gepraat het, het Jonatan seun van die priester Abjatar daar aangekom. Adonia het gesê: “Kom nader, jy is 'n belangrike man en jy sal goeie nuus bring.”
Jonatan het geantwoord en vir Adonia gesê: “Nee, dit is nie goeie nuus vir jou nie. Ons meneer die koning Dawid het vir Salomo koning gemaak. Die koning het die priester Sadok saam met Salomo gestuur, en ook die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die Filistynse manne wat die koning moet oppas. Hulle het Salomo op die koning se muil laat ry en die priester Sadok en die profeet Natan het vir Salomo by die Gihon-fontein gesalf om koning te wees. Hulle het geskree en gejuig toe hulle van daar terugkom, en al die mense in die stad juig nou saam. Dit is wat julle gehoor het wat so geraas het. Salomo sit nou op die troon van die koning, en die koning se amptenare het ook gekom om ons meneer die koning Dawid geluk te wens. Hulle het gesê: ‘Koning Dawid, ons bid dat jou God vir Salomo 'n belangriker koning sal maak as wat jy was, sodat meer mense sal weet van hom as van jou.’
“En koning Dawid het daar op sy bed gebuig en gebid. Hy het gesê: ‘Ek prys die Here, die God van Israel. Hy het vandag een van my seuns op my troon laat sit en ek kan dit self sien.’ ”
Al die gaste wat by Adonia was, het geskrik en opgestaan en haastig weggegaan, elkeen op 'n ander pad. Adonia was bang dat Salomo hom sal doodmaak en hy het opgestaan en aan die horings van die altaar gaan vashou. Iemand het vir Salomo gaan sê: “Koning Salomo, Adonia is nou bang vir jou. Hy het aan die horings van die altaar gaan vashou en hy het gesê: ‘Koning Salomo moet vandag belowe, en die Here moet die getuie wees, dat hy my nie sal laat doodmaak nie.’ ”
Salomo het gesê: “As Adonia niks verkeerd doen nie, dan sal niks met hom gebeur nie, nie een van sy hare sal op die grond val nie. Maar as hy iets verkeerd doen, dan sal hy sterf.”
Koning Salomo het mense gestuur om vir Adonia by die altaar te gaan haal. Hulle het hom gebring, en hy het voor koning Salomo gebuig. Salomo het vir hom gesê: “Jy mag nou huis toe gaan.”