Vriende, ek wil hê julle moet die goeie boodskap baie goed verstaan, die goeie boodskap wat ek vir julle gebring het. Julle het die boodskap geglo, julle is seker dat die boodskap waar is, en dit red julle. Maar dan moet julle aanhou om die goeie boodskap te glo soos ek dit vir julle gebring het. As julle iets anders glo, dan beteken dit niks dat julle glo nie. Die belangrikste dinge wat ek vir julle geleer het, het die ander apostels vir my geleer, en dit is: Christus het ons sondes weggeneem toe Hy gesterf het. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. Christus is begrawe, en God het Hom op die derde dag weer laat lewe. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. Christus het verskyn aan Sefas, en daarna het Hy ook verskyn aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 gelowiges op dieselfde tyd verskyn. Baie van hulle lewe vandag nog, maar party het klaar gesterf. Daarna het Christus aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. Laaste het Hy aan my verskyn. Ek was glad nie belangrik nie. Ek is die minste belangrik van al die apostels. Ek is nie goed genoeg om 'n apostel te wees nie, omdat ek voorheen baie slegte dinge gedoen het aan die mense van die kerk van God. Maar God was genadig vir my, daarom is ek nou 'n apostel. Ja, God was genadig vir my, ek het daarna harder gewerk as al die ander apostels. Maar dit is nie ék wat so goed was nie, dit was Gód wat so genadig was vir my en wat altyd saam met my was. Dit maak nie saak wie vir julle preek nie, ek of die ander apostels. Die belangrikste is dat ons almal dieselfde boodskap bring en dat julle dit geglo het.
Ons, die apostels, bring die boodskap dat God vir Christus weer laat lewe het. Hoekom sê party van julle dat die dooie mense nie weer sal lewe nie? As die dooie mense nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken ons boodskap niks, en dan beteken julle geloof ook niks. Dan is ons ook vals getuies van God, omdat ons vertel dat God vir Christus weer laat lewe het. Want as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan is dit nie waar dat God vir Christus weer laat lewe het nie. Ja, ek sê dit weer: As die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken julle geloof niks, dan is julle nog nie vry van julle sondes nie. Dan het die mense wat aan Christus behoort het en gesterf het, verlore gegaan. As ons hoop dat Christus ons red net vir hierdie lewe op die aarde, dan moet al die mense baie jammer wees vir ons.
Maar nee, God het vir Christus weer laat lewe, dit is seker. Christus is die eerste Een van almal wat gesterf het, en God het Hom weer laat lewe. 'n Mens, Adam, het gesterf, en van toe af het almal in die wêreld gesterf. Maar nou het God 'n ander Mens, Christus, weer laat lewe, en daarom sal al die gelowiges wat gesterf het, ook weer lewe. Ons is almal die nageslag van Adam, daarom sterf ons almal. Maar ons behoort ook aan Christus, en daarom sal God ons ook almal weer laat lewe. Elkeen kry 'n beurt. Christus is die Eerste, God het vir Christus weer laat lewe. Later, wanneer Christus weer kom, sal die mense wat aan Hom behoort, ook weer begin lewe.