Miskien sal ek die tale van mense
en van engele kan praat,
maar as ek nie lief is vir God
en vir ander mense nie,
dan is ek soos 'n klok of soos
'n simbaal wat net raas.
Miskien sal ek God se boodskap
kan bring,
en al die geheime kan ken,
en alles kan weet.
Miskien sal ek so sterk kan glo
dat ek berge kan wegskuif,
maar as ek nie lief is vir God
en vir ander mense nie,
dan beteken ek niks.
Miskien sal ek al my goed
kan weggee,
en miskien sal ek myself kan gee
sodat mense my slaan
en seermaak,
en sal ek daaroor spog,
maar as ek nie lief is vir God
en vir ander mense nie,
dan help dit my niks.
Iemand wat lief is vir God
en vir ander mense,
is geduldig en vriendelik,
hy is nie jaloers nie,
hy spog nie, hy is nie
hoogmoedig nie,
hy doen nie lelike dinge nie,
hy is nie selfsugtig nie,
hy word nie gou kwaad nie,
hy onthou nie vir altyd
dat mense slegte dinge
aan hom gedoen het nie,
hy is nie bly wanneer mense
verkeerde dinge doen
aan ander mense nie,
hy is baie bly wanneer mense
die waarheid praat.
Hy word nooit moedeloos nie,
hy hou aan om te glo en te hoop,
hy bly geduldig.
Hy hou nie op om lief te wees
vir God en vir ander mense nie.
Daar is genadegawes
wat sal ophou:
Om God se boodskap te bring,
sal ophou.
Om in tale te praat, sal ophou.
Om baie dinge te weet, sal stop.
Want ons weet net 'n bietjie,
en ons bring net 'n bietjie
van God se boodskap.
Maar eendag, wanneer alles is
soos God dit wil hê,
dan sal die dinge wat ons nou
ken en het,
nie meer nodig wees nie.