Wanneer die 1 000 jaar om is, sal Satan uit sy tronk losgelaat word. Hy sal dan daarop uit wees om die nasies tussen die vier hoeke van die aarde, die Gog en Magog, te verlei en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Getallegewys is hulle so baie soos die sand van die see. Hulle het toe van oor die hele breedte van die aarde af opgetrek en die laer van hulle wat aan God toegewy is, en die geliefde stad omsingel. Daar het egter vuur van die hemel af op hulle afgekom en hulle verteer. Satan wat hulle verlei het, is daarop in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die monster en die vals profeet ook reeds is. Daar sal hulle dag en nag vir altyd gefolter word. Ek het toe ’n groot wit troon gesien en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van Hom af weggevlug, en daar was nie meer wegkruipplek vir hulle oor nie. Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ’n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat daarin was, en hulle is elkeen geoordeel volgens wat hulle gedoen het. Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood – die poel van vuur. En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
Lees OPENBARING 20
Luister na OPENBARING 20
Deel
Vergelyk alle weergawes: OPENBARING 20:7-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's