DIE OPENBARING 20:7-15
DIE OPENBARING 20:7-15 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer die 1 000 jaar verby is, dan sal God die Satan laat uitkom uit die tronk waar die Satan was. Die Satan sal uitgaan om vir die mense van al die volke dinge te laat glo wat nie waar is nie. Hy sal die volke, die Gog en Magog, bymekaar laat kom by die vier hoeke van die aarde. Hulle sal so baie wees soos die sand van die see. Hy wil hê hulle moet oorlog maak teen God. Hulle het gekom om oorlog te maak. Daar was baie soldate, hulle was daar so ver soos 'n mens kan sien. Hulle het rondom die kamp van God se mense gegaan en ook rondom die stad van God. God was lief vir hierdie stad. God het vuur uit die hemel laat kom en die vuur het sy vyande doodgebrand. God het die duiwel in die see van vuur en swael gegooi, die duiwel wat die mense dinge laat glo wat nie waar is nie. Die duiwel was toe saam met die dier en die vals profeet in die see van vuur en swael. Daar sal hulle elke dag en elke nag brand en baie seer kry, vir altyd en altyd. Toe sien ek 'n groot wit troon en ek sien vir God wat op die troon sit. Die aarde en die hemel was so bang vir God dat hulle weggehardloop het, 'n mens kon hulle nêrens sien nie. Toe sien ek die mense wat gesterf het, staan voor die troon, al die mense, grootmense en kinders. Iemand het die boeke in die hemel oopgemaak, ook die boek van die lewe. God het gekyk wat in die boeke geskryf is oor wat elke mens gedoen het, en toe het Hy die mense ge-oordeel. Ja, al die mense het weer begin lewe: die mense wat in die see gesterf het, en ook die mense wat gesterf het en wat in die doderyk was. God het gekyk wat hulle gedoen het en Hy het hulle almal ge-oordeel. Toe het God die dood en die doderyk in die see van vuur gegooi. Dit is die tweede dood. As iemand se naam nie in die boek van die lewe geskryf was nie, dan het God hom in die see van vuur gegooi.
DIE OPENBARING 20:7-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. EN ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
DIE OPENBARING 20:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. Toe het ek 'n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
DIE OPENBARING 20:7-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wanneer die duisend jaar verstryk het, sal Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. Dan sal hy optrek om die nasies tussen die vier uithoeke van die aarde, die Gog en Magog, op 'n dwaalspoor te lei, en om hulle te mobiliseer vir die oorlog. Hulle getal is soos die sand van die see. Hulle het van oor die breedte van die aarde opgeruk, en die laer van die •heiliges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur uit die hemel neergedaal en hulle verteer. Die Duiwel wat hulle op 'n dwaalspoor gelei het, is toe in die poel van vuur en swael gegooi waar die dier en die vals profeet ook is. En hulle sal dag en nag gefolter word, vir ewig en ewig. Toe het ek 'n groot wit troon gesien, en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van sy aangesig af weggevlug, en daar was nie meer plek vir hulle nie. En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan. Toe is die boekrolle oopgemaak. 'n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe. Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel. Die see het toe die dooies wat daarin is, teruggegee, en die dood en Hades het die dooies wat daarin is, teruggegee. Elkeen is volgens hulle dade geoordeel. Toe is die dood en die •Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. En as gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
DIE OPENBARING 20:7-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En as die duisend jaar verby is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word, En hy sal uittrek om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, Gog en Magog, om hulle bymekaar te bring vir die oorlog; hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgetrek oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verteer. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is, en sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dooies, klein en groot, voor God sien staan; en die boeke is geopen, en 'n ander boek is geopen, dit is die boek van die lewe; en die dooies is geoordeel uit wat in die boeke geskrywe is, volgens hulle werke. En die see het die dooies gegee wat daarin was; en die dood en die doderyk het die dode oorgegee wat in hulle was, en hulle is elkeen geoordeel volgens sy werke. En die dood en die hel is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En elkeen wat nie opgeskryf gevind is in die boek van die lewe nie, is in die poel van vuur gewerp.
DIE OPENBARING 20:7-15 Die Boodskap (DB)
Wanneer die 1 000 jaar verby is, sal God Satan uit sy tronk laat kom. Satan sal skaars uit die tronk wees of hy sal al die mense, oor die hele wêreld, begin mislei. Hy sal hulle - dit is die Gog en die Magog - ompraat om saam te kom vir oorlog. Daar sal miljoene van hulle wees, so baie soos die sand van die see. Hulle sal oor ’n wye gebied optrek en die woonplek van God se mense, asook die stad wat God liefhet, omsingel. Maar daar sal vuur uit die hemel op hulle neerbrand en hulle verbrand. Die duiwel wat hulle so mislei het, sal in die see van vlamme en swael gegooi word. Dit is waar die dier en die vals profeet ook is. Dié drie sal daar dag en nag, sonder ophou, van die pyn krul. Voor my oë het ek ’n groot, wit troon sien staan. Ek het Iemand op die troon sien sit. Die hemel en die aarde het voor Hom probeer wegkom, maar daar was nie ’n plek waar hulle kon wegkruip nie. Toe sien ek iets anders. Mense wat reeds dood en begrawe was - klein en groot - het voor die troon gestaan. Boeke is toe oopgeslaan. ’n Boek is oopgemaak waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig sal lewe. Daarin is boekgehou van wat die mense alles gedoen het. God het besluit wat met elkeen gaan gebeur op grond van wat in die boek staan. Die mense wat in die see verdrink het, het lewendig geword. Al die mense, hoe hulle ook al dood is, het lewendig geword en voor die troon verskyn. Elkeen moes God se oordeel aanhoor, volgens hoe hy geleef het. Daarna het God die moontlikheid van die dood ook vernietig. Die dood en die doderyk self is in die see van vuurvlamme gegooi. Dit is die tweede dood: om in hierdie see van vlamme verskroei te word. Nou wie presies beland in hierdie vlamme? As jou naam nie in die boek staan waarin die name staan van die mense wat vir ewig sal leef nie, is die vlamme jou voorland!
DIE OPENBARING 20:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer die 1 000 jaar om is, sal Satan uit sy tronk losgelaat word. Hy sal dan daarop uit wees om die nasies tussen die vier hoeke van die aarde, die Gog en Magog, te verlei en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Getallegewys is hulle so baie soos die sand van die see. Hulle het toe van oor die hele breedte van die aarde af opgetrek en die laer van hulle wat aan God toegewy is, en die geliefde stad omsingel. Daar het egter vuur van die hemel af op hulle afgekom en hulle verteer. Satan wat hulle verlei het, is daarop in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die monster en die vals profeet ook reeds is. Daar sal hulle dag en nag vir altyd gefolter word. Ek het toe ’n groot wit troon gesien en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van Hom af weggevlug, en daar was nie meer wegkruipplek vir hulle oor nie. Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ’n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat daarin was, en hulle is elkeen geoordeel volgens wat hulle gedoen het. Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood – die poel van vuur. En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.