PSALMS 88:1-18

PSALMS 88:1-18 NLV

HERE, God van my verlossing, dag en nag roep ek tot U. Luister tog nou na my gebed; hoor my hulpgeroep. Want my lewe is vol ellende, en die dood kom al nader. Ek word getel saam met dié wat op pad is na die graf. Ek het geword soos ’n sterk man met geen krag meer oor nie. Ek word saam met dooies getel, saam met gesneuweldes in die graf, hulle vir wie U nie meer onthou nie, wat afgesny is van u versorging. U het my heel onder in die diepste kuil gesit, in die donkerste dieptes. U toorn rus swaar op my, u golwe het oor my geslaan. Sela U het my vriende van my weggeneem. U het gemaak dat hulle my verafsku. Ek is vasgevang en kan nie ontsnap nie. My oë is dof van droefheid. HERE, elke dag roep ek U om hulp, en sprei my hande uit na U in gebed. Is u wonders vir die dooies bestem? Staan dooies op om U te loof? Sela Word u liefde in die graf verkondig, en u trou in die plek van verderf? Is u wonders bekend in die donkerte, u regverdigheid in die plek van vergetelheid? Maar ek roep na U om hulp, HERE. Elke oggend is my gebed voor U. HERE, waarom verstoot U my? Waarom draai U weg van my? Vanaf my jeug het ek gely en was ek naby my dood. Die las van u verskrikking het my in verwarring. U toorn het my oorweldig; u verskrikking het my vernietig. Die hele dag omring hulle my soos vloedwater en sak op my toe van alle kante.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 88:1-18