PSALMS 88:1-18

PSALMS 88:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet. Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie. Dit is asof ek al tussen die dooies is, tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê, dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U u hand teruggetrek het. U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis. U gramskap rus swaar op my, U laat al u golwe oor my breek. Sela U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks; ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie. My oë is al dof van ellende; die hele dag deur roep ek na U, Here, en steek ek my hande in gebed na U uit. Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid? Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre al bid ek tot U. Waarom verstoot U my, Here, waarom trek U U van my af terug? Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af. Dit is 'n swaar las waarmee U my teister. Ek weet geen raad meer nie. U toorn rus op my, U tref my met skrik en vernietig my. Dit bedreig my heeldag soos vloedwater, dit sak op my toe van alle kante af.

PSALMS 88:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete. Vir die •musiekleier. Op Magalat . Om te sing. 'n Maskiel . Van Heman, die Esragiet. HERE, God wat my verlos, bedags roep ek om hulp, snags bly my hulpgeroep voor U. Laat my gebed U bereik, draai u oor na my klaagroep; want ek het genoeg gehad van rampe. My lewe is by die •doderyk; ek word gereken by dié wat afdaal in die put. Ek het geword soos 'n sterk man sonder krag, vrygelaat onder die dooies, soos gesneuweldes wat in 'n graf lê, aan wie U nie meer dink nie; hulle wat afgesny is van u hand. U het my in die diepste put geplaas, in donker plekke, in die dieptes. U woede rus swaar op my; met al u golwe onderdruk U my. •Sela U het my bekendes van my verwyder, U het my iets afstootliks gemaak vir hulle. Ek is opgesluit en kan nie uitkom nie; my oë verdof van ellende. Ek roep na U, HERE, elke dag, ek strek my handpalms na U uit. Kan U aan dooies 'n wonder doen? Of skimme, kan hulle opstaan, kan hulle U prys? Sela Word daar in die graf gepraat oor u troue liefde, oor u betroubaarheid in die onderwêreld? Is u wonders bekend in die duisternis, en u geregtigheid in die land van vergetelheid? En ek, na U roep ek om hulp, HERE, elke oggend kom my gebed voor U. Waarom, HERE, verstoot U my, verberg U u gesig vir my? Ek is magteloos, in doodsgevaar van my jeug af; verslae dra ek u verskrikkinge. Oor my het die gloed van u toorn gebreek, u verskrikkinge vernietig my. Die hele dag omring dit my soos water, dit omsluit my heeltemal.

PSALMS 88:1-18 Bybel vir almal (ABA)

'n Lied. 'n Psalm. Van die Korag-groep. Vir die leier van die koor: Die fluite moet speel en julle moet sing. 'n Lied van die Esragiet Heman. Here, God wat my moet red, ek roep elke dag en elke nag en ek vra dat U my moet help. U moet luister na my gebed, U moet hoor hoe ek soebat, want ek kry baie swaar en ek word moedeloos, ek is naby die dood. Mense dink dat ek sal sterf, ek het geword soos 'n mens wat nie krag het nie. Dit voel of U my gelos het by die mense wat klaar gesterf het, dit voel of ek by die mense is wat in oorlog gesterf het en wat nou in 'n graf lê, mense aan wie U nie meer dink nie en vir wie U niks doen nie. Dit voel of U my onder in die doderyk gesit het, in die donker en diep plek. U is kwaad vir my en ek is moedeloos, dit is soos groot branders wat oor my spoel. Sela U laat die mense wat my ken, ver van my staan, hulle wil nie naby my kom nie. Ek sit vas en ek kan nie uitkom nie. My oë het dof geword, want ek kry baie swaar. Ek het tot U gebid, Here, ek het die hele dag my hande uitgesteek na U. U doen nie wonderwerke vir mense wat dood is nie, hulle staan nie op en hulle prys U nie. Sela In die graf, die onderwêreld, sê mense nie dat U doen wat U belowe nie, hulle sê nie dat hulle seker is U sal help nie. Daar in die donker, die plek waaraan niemand wil dink nie, weet hulle nie dat U wonderwerke kan doen en dat U reg doen aan mense nie. En ek? Ek roep en vra dat U my moet help, ek bid elke oggend tot U. Here, hoekom stoot U my weg, hoekom wil U nie na my kyk nie? Ek kan myself nie help nie, ek was naby die dood vandat ek jonk was. U het my baie swaar laat kry, en ek weet nie wat om te doen nie. U is kwaad vir my, en dit maak my moedeloos. U het my swaar gestraf, ek kan nie daaroor praat nie. Dit voel die hele dag soos 'n watervloed wat om my is, water wat van al die kante oor my stroom.

PSALMS 88:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N LIED. 'n Psalm van die kinders van Korag. Vir die musiekleier; op die wysie van: „Máhalat leannot.” 'n Onderwysing van Heman, die Esrahiet. HERE, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U. Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking. Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk. Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos 'n man sonder krag, vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand. U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes. U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela. U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie. My oog vergaan van ellende. HERE, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit. Kan U aan die dooies 'n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela. Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering? Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid? Maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet. HERE, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my? Van jongs af is ek ellendig en klaar om te sterwe; ek dra u verskrikkinge, ek is radeloos. U toorngloed het oor my gegaan; u verskrikkinge vernietig my; die hele dag omring hulle my soos water, saam omsingel hulle my.

PSALMS 88:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

O HERE, God van my heil, ek het dag en nag voor U uitgeroep: Laat my gebed voor U aangesig kom; neig U oor tot my geroep; Want my siel is vol benoudhede, en my lewe kom naby die doderyk. Ek word gereken saam met die wat in die kuil neerdaal; ek is soos 'n man wat geen krag het nie. Vry onder die dooies, soos die gesneuweldes wat in die graf lê, aan wie jy nie meer dink nie, en hulle is uit jou hand uitgeroei. U het my neergelê in die onderste kuil, in duisternis, in die dieptes. U grimmigheid lê swaar op my, en U het my verdruk met al U golwe. Sela. U het my bekende ver van my verwyder; U het my vir hulle 'n gruwel gemaak; ek is toegesluit en kan nie uitkom nie. My oog treur vanweë ellende: HERE, ek roep U daagliks aan, ek steek my hande na U uit. Wil jy wonders aan die dooies doen? sal die dode opstaan en U loof? Sela. Sal U goedertierenheid in die doderyk verkondig word? of U trou in die verderf? Sal u wonders in die donker bekend word? en U geregtigheid in die land van vergeetagtigheid? Maar ek het tot U geroep, HERE; en in die môre sal my gebed jou verhinder. HERE, waarom verwerp U my siel? waarom verberg jy u aangesig vir my? Ek is ellendig en gereed om te sterf van my jeug af; terwyl ek u verskrikkinge verduur, is ek afgelei. U gloeiende toorn gaan oor my; U verskrikkinge het my uitgeroei. Hulle het my daagliks soos water omring; hulle het my saam omsingel. Liefhebber en vriend het U ver van my af gesit, en my bekendes in die duisternis.