PSALMS 63:1-11

PSALMS 63:1-11 NLV

O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water. Ek het U inderdaad in die heiligdom gesien en u krag en heerlikheid aanskou. U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Daarom wil ek U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande. Mag hulle wat my lewe soek, omkom en in die dieptes van die aarde wegsink. Mag hulle oorgegee word aan die swaard en kos word vir die jakkalse.