PSALMS 34:1-22

PSALMS 34:1-22 NLV

Ek sal te alle tye die HERE loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die HERE roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees. Kom verheerlik die HERE saam met my; laat ons saam sy Naam prys. Ek het tot die HERE gebid en Hy het my geantwoord, Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is. Hulle wat opsien na Hom, sal straal van vreugde; op hulle gesigte is daar geen skaamte nie. Hierdie ellendige mens het geroep, en die HERE het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered. Want die Engel van die HERE hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle. Beproef en sien dat die HERE goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou! Dien die HERE, julle wat aan Hom toegewy is! Hulle wat Hom eer, ly geen gebrek nie. Selfs jong leeus ly gebrek en is honger, maar wie op die HERE vertrou, kort niks wat goed is nie. Kom, kinders, luister na my! Ek sal julle leer hoe om die HERE te dien. Wie is die mens wat ’n lang lewe begeer, wat baie goeie dae begeer? Hy moet sy tong weerhou van kwaad en sy lippe om leuens te vertel. Vermy die kwaad en doen wat goed is. Soek vrede en streef dit na. Die HERE waak oor hulle wat reg doen; Hy luister na die geroep om hulp. Maar die HERE tree op teen hulle wat kwaad doen en verwyder die herinnering aan hulle op die aarde. Wanneer mense roep om hulp, hoor die HERE. Uit al hulle moeilikhede red Hy hulle. Die HERE is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is. Die regverdige kan baie rampe ervaar, maar uit elkeen van hulle red die HERE hom. Want die HERE beskerm selfs elke been. Nie een van hulle sal gebreek word nie. Onheil sal sekerlik die goddeloses inhaal; hulle wat die regverdiges haat, sal veroordeel word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid