PSALMS 34:1-22

PSALMS 34:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Van Dawid. Toe hy by Abimelek was, het hy gemaak of hy mal is, en Abimelek het hom weggejaag. Ek sal die Here altyd prys, ek sal aanhou sing vir Hom. Ek sal vir almal sê wat die Here gedoen het. Die mense wat hulleself nie kan help nie, moet dit hoor en hulle moet bly wees. Julle moet saam met my sing en sê die Here is groot, julle moet almal saam sy Naam prys. Ek het vir die Here gevra wat met my sal gebeur, en Hy het my geantwoord. Ek was bang vir baie dinge, maar Hy het my van alles gered. Die mense wat hulleself nie kan help nie, wag dat Hy hulle moet help, hulle weet Hy sal help, en hulle is bly. Ek kan myself nie beskerm nie, ek het gebid, en die Here het gehoor. Hy het my gered van alles wat dit sleg laat gaan het met my. Die Engel van die Here beskerm die mense wat die Here dien en Hy red hulle. Julle moet self voel en sien dat die Here goed is. Dit gaan goed met die mens wat vra dat die Here hom moet beskerm. Julle wat aan die Here behoort, julle moet die Here dien, want die mense wat Hom dien, het altyd genoeg van alles. Leeus kry nie altyd genoeg kos nie en hulle word honger, maar die mense wat vir die Here vra wat hulle moet doen, het genoeg van al die goeie dinge. Kom kinders, julle moet luister na my, ek wil vir julle leer hoe julle die Here moet dien. Die persoon wat lief is vir die lewe en wat graag goeie dinge wil hê, moenie sleg praat van mense nie en hy moenie lieg nie. Hy moenie verkeerde dinge doen nie, hy moet goeie dinge doen, hy moet altyd probeer om vrede te maak. Die Here kyk na die mense wat reg lewe en Hy sorg vir hulle. Hy luister wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help. Die Here hou nie van mense wat verkeerde dinge doen nie, Hy sal hulle laat verdwyn, en niemand in die land sal nog aan hulle dink nie. Wanneer die mense wat reg lewe, roep en vra dat die Here hulle moet help, dan luister die Here, en Hy red hulle van alles wat dit sleg laat gaan met hulle. Die Here is naby die mense wat dink dit sal nooit beter gaan met hulle nie, Hy red die mense wat heeltemal moedeloos geword het. Daar is baie dinge wat 'n mens wat reg lewe, laat swaarkry, maar die Here red Hom van al hierdie dinge. Die Here sorg vir die mens wat reg lewe se hele liggaam, niemand sal die bene in so 'n mens se liggaam breek nie. Die mens wat verkeerd lewe, sal sterwe omdat hy verkeerd doen, die mense wat die mense haat wat reg lewe, sal skuldig wees, en die Here sal hulle straf.

PSALMS 34:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N PSALM van Dawid, toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abiméleg en dié hom weggejaag het, sodat hy heengegaan het. Alef. Ek wil die HERE altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees. Bet. My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees. Gimel. Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef! Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos. Get. Die Engel van die HERE trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Tet. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! Jod. Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Kaf. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie. Lamed. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer. Mem. Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien? Noen. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie. Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na. Ajin. Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. Pe. Die aangesig van die HERE is teen die kwaaddoeners, om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei. Sade. Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede. Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom. Sjin. Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie. Tau. Die onheil maak die goddelose dood; en die wat die regverdige haat, moet daarvoor boet.

PSALMS 34:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en hy het padgegee. Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie. Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered. Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil. Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie. Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie. Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien. As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. Maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen en vee selfs die herinnering aan hulle van die aarde af. As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal. Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie. Die kwaad wat die goddelose doen, bewerk sy eie ondergang: vir sy vyandskap teen die regverdige sal hy boet.

PSALMS 34:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het. Ek wil die HERE die hele tyd prys, my mond is voortdurend vol van sy lof. In die HERE sal ek roem; verdruktes sal dit hoor en hulle verheug. Maak saam met my die Naam van die HERE groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik. Ek het die HERE geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered. Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie. Hierdie magtelose het geroep en die HERE het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos. Die •Engel van die HERE trek 'n laer rondom hulle wat vir die HERE ontsag het en Hy red hulle. Beproef dit en ervaar: Die HERE is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil. Julle moet ontsag hê vir die HERE, julle wat aan Hom toegewy is; want wie vir Hom ontsag het, ly geen gebrek nie. Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie die HERE soek, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie. Kom, kinders, luister na my, ontsag vir die HERE sal ek julle leer. Wie is die mens wat lewe begeer, graag jare wil hê om die goeie te ervaar? Weerhou jou tong van kwaad en jou lippe daarvan om bedrieglik te praat. Vermy die kwaad, en doen die goeie; soek vrede, en jaag dit na. Die oë van die HERE is op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep. Die gesig van die HERE is gerig teen kwaaddoeners om hulle gedagtenis uit te roei van die aarde af. Regverdiges roep om hulp en die HERE luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle. Die HERE is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy. 'n Regverdige ervaar baie teenspoed, maar uit dit alles red die HERE hom. Hy beskerm al sy bene; nie een van hulle word gebreek nie. Boosheid veroorsaak 'n goddelose se dood en hulle wat 'n regverdige haat, sal daarvoor boet

PSALMS 34:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek sal die HERE altyddeur loof: sy lof sal altyddeur in my mond wees. My siel sal haar in die HERE laat roem: die nederiges sal daarvan hoor en bly wees. Verheerlik die HERE saam met my, en laat ons saam sy Naam verhef. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my verhoor en my van al my vrese gered. Hulle het na Hom gekyk en is verlig, en hulle gesigte was nie beskaamd nie. Hierdie arme man het geroep, en die HERE het hom verhoor en hom uit al sy benoudhede verlos. Die Engel van die HERE trek laer op rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Smaak en sien dat die HERE goed is; geseënd is die man wat op Hom vertrou. Vrees die HERE, sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Die jong leeus het gebrek en ly honger; maar die wat die HERE soek, sal niks goeds ontbreek nie. Kom, kinders, luister na my: Ek sal julle die vrees van die HERE leer. Watter mens is dit wat die lewe begeer en baie dae liefhet, dat hy die goeie kan sien? Bewaar jou tong van onheil en jou lippe van bedrog. Gaan weg van die kwaad en doen goed; soek vrede en jaag dit na. Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle hulpgeroep. Die aangesig van die HERE is teen die wat kwaad doen, om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei. Die regverdiges roep, en die HERE luister en verlos hulle uit al hulle benoudhede. Die HERE is naby die wat gebroke van hart is; en red die wat verslae van gees is. Die ellende van die regverdige is baie, maar die HERE verlos hom uit almal. Hy bewaar al sy gebeente; nie een van hulle word gebreek nie. Onheil sal die goddelose doodmaak, en die wat die regverdiges haat, sal 'n wildernis wees. Die HERE verlos die siel van sy dienaars, en niemand van die wat op Hom vertrou, sal 'n wildernis wees nie.

PSALMS 34:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek sal te alle tye die HERE loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die HERE roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees. Kom verheerlik die HERE saam met my; laat ons saam sy Naam prys. Ek het tot die HERE gebid en Hy het my geantwoord, Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is. Hulle wat opsien na Hom, sal straal van vreugde; op hulle gesigte is daar geen skaamte nie. Hierdie ellendige mens het geroep, en die HERE het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered. Want die Engel van die HERE hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle. Beproef en sien dat die HERE goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou! Dien die HERE, julle wat aan Hom toegewy is! Hulle wat Hom eer, ly geen gebrek nie. Selfs jong leeus ly gebrek en is honger, maar wie op die HERE vertrou, kort niks wat goed is nie. Kom, kinders, luister na my! Ek sal julle leer hoe om die HERE te dien. Wie is die mens wat ’n lang lewe begeer, wat baie goeie dae begeer? Hy moet sy tong weerhou van kwaad en sy lippe om leuens te vertel. Vermy die kwaad en doen wat goed is. Soek vrede en streef dit na. Die HERE waak oor hulle wat reg doen; Hy luister na die geroep om hulp. Maar die HERE tree op teen hulle wat kwaad doen en verwyder die herinnering aan hulle op die aarde. Wanneer mense roep om hulp, hoor die HERE. Uit al hulle moeilikhede red Hy hulle. Die HERE is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is. Die regverdige kan baie rampe ervaar, maar uit elkeen van hulle red die HERE hom. Want die HERE beskerm selfs elke been. Nie een van hulle sal gebreek word nie. Onheil sal sekerlik die goddeloses inhaal; hulle wat die regverdiges haat, sal veroordeel word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid