PSALMS 27:1-8

PSALMS 27:1-8 NLV

Die HERE is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die HERE is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees? Wanneer bose mense kom om my te verslind, my vyande en teenstanders my aanval, struikel en val húlle. Al sou ’n magtige leër teen my optrek, ek sal nie bang wees nie. Al sou hulle my aanval in ’n geveg, selfs dán sal ek hoopvol bly. Een ding vra ek van die HERE, en dit sal ek bly soek: om in die huis van die HERE te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink. Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg. Hy sal my op ’n hoë rots laat staan. Dan sal ek my kop hoog oplig bokant my vyande wat my omring. In sy woning sal ek offers van vreugde bring terwyl ek sing en met musiek die HERE loof. Luister tog na my as ek roep, HERE. Wees genadig, verhoor my gebed! U het vir my hart gesê: “Kom en dien My.” Ek antwoord: “HERE, ek kom U dien.”