Ek rig my tot U, HERE.
Ek vertrou op U, my God!
Moenie dat ek
in die skande kom,
of my vyande
oor my laat juig nie.
Niemand wat op U wag,
word ooit beskaam nie,
maar húlle word beskaam
wat bedrieg sonder oorsaak.
HERE, wys my die weg
wat ek moet gaan,
leer my u paaie.
Lei my deur u waarheid
en leer my,
want U, o God, is my redder.
Die hele dag wag ek vol hoop op U.
Dink, o HERE, aan u liefde
en medelye,
van altyd af deur U bewys.
Moenie dink aan die opstand
en die sonde van my jeug nie;
HERE, dink eerder aan my
met troue liefde,
ter wille van u goedheid.
Die HERE is goed
en doen wat reg is.
Daarom wys Hy vir sondaars
die regte pad.
Mag Hy die nederiges
op die regte weg lei,
en vir dié wat beskeie is,
sy pad leer.
Die paaie van die HERE
is goedheid en trou
vir dié wat getrou is
aan die bepalings
van sy verbond.
Ter wille van u Naam, HERE,
vergewe tog my sondes,
want dit is baie.
Wie is die een
wat die HERE dien?
Hy sal hom wys
watter pad hy moet kies.
Hy sal in voorspoed lewe,
en sy nageslag
sal die beloofde land beërwe.
Die HERE se voorneme
is duidelik
vir dié wat Hom dien.
Aan hulle
maak Hy sy verbond bekend.
Ek kyk altyd op na die HERE
vir hulp,
want Hy sal my voete
van die vangnet bevry.
Draai u gesig na my
en bewys genade aan my,
want ek is alleen
en in diep nood.
Die kwellinge van my gedagtes
word al meer.
Verlos my tog
uit hierdie ellende!
Kyk na my pyne en kwellinge,
en vergeef tog al my sondes.
Kyk hoeveel vyande
is teen my,
hoe hulle my haat met venyn!
Beskerm my en red my!
Bewaar my van vernedering,
want ek vertrou op U.
Mag opregtheid en eerlikheid
my beskerm,
want ek wag op U.
O God, bevry Israel
uit al sy nood.